Stilering Melissa Rautenbach

Sespakke met eenjariges is maklik om te plant en sorg vir kitskleur in jou tuin. Dié plantjies is nie te vol fiemies oor die tipe grond waarin dit groei nie, het ’n vlak wortelstelsel en is bekostigbaar: Vir net meer as R20 per pak kan jy ’n bedding, pot of hangmandjie gou in ’n fokuspunt omskep.

“As jy jou sespakke vroeg genoeg in die seisoen plant, kry jy maande lank waarde vir jou geld danksy die oorvloed blomme wat dié plante in een seisoen produseer. Binne ’n week of drie ná jy dit geplant het, behoort dit reeds mildelik blomme te dra,” vertel Helia Smit, tuinboukundige by Cape Garden. “Sou jy dit vir ’n spesiale geleentheid plant, tel dan drie weke tot ’n maand terug van die datum wanneer jy jou tuin op sy beste wil laat lyk en plant jou sespakke dan. So kan jy seker wees van baie kleur wanneer jy jou gaste onthaal.

“Eenjariges is in die meeste gevalle kleurvoller as meerjariges en maak kort nadat hulle geplant is ’n pragtige vertoning. Boonop saai sommige eenjariges hulself baie maklik en kan jy die volgende jaar nog plantjies oraloor verwag.”

Behalwe dat eenjariges ’n wenner is om fokuspunte soos ’n bedding rondom ’n fontein of ’n hoekie naby die voordeur op te helder, is dit ook baie waardevol in ’n nuwe tuin. “Meerjariges word gewoonlik klein geplant en neem minstens ’n seisoen om groot te groei en te begin blom. Deur eenjariges tussenin te plant, maak jy die kaal grond vinnig toe en het jy kleur lank voor die meerjariges begin blom.

“Eenjariges gee ook seisoenale kleur aan ’n tuin. Aangesien dié plante as somer- of winterblommend geklassifiseer word, kan jy twee maal per jaar enige bedding of pot ’n nuwe voorkoms gee! Dis wel ’n bietjie meer moeite, maar gee jou die geleentheid om met nuwe kleure en variëteite te eksperimenteer en met die jongste neigings tred te hou!” gesels Helia.

Vir die somer

Petunia

(Petunia-hibriede)

Petunias blom die hele somer deur vir maande aaneen. En hoe warmer dit is, hoe mooier blom hulle! Dié eenjarige is in ’n groot verskeidenheid variëteite en kleure beskikbaar. Kies ’n rankende variëteit vir potte en hangmandjies en meer kompakte soorte vir ’n bedding.

Knyp die groeipunte (dit is die boonste puntjie van ’n nuwe steel) uit wanneer die plantjie sowat 10 cm hoog is. Dit moedig die plant aan om sylote te vorm. Die nuwe sylote se groeipunte kan ook later uitgeknyp word om nog meer groei en ’n kompakter voorkoms aan te moedig. Laatsomer raak petunias onnet en die stele lank met blommetjies net aan die punte. Sny dan liggies terug om nuwe groei aan te moedig.

Plantgids
  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Redelik rypbestand
  • Hoogte 15–30 cm

Heuningblommetjie

(Lobularia maritima)

Dié fyn en geurige blommetjies is ’n ouwêreldse gunsteling. Dit lyk pragtig op die rand van ’n bedding, tussen meerjariges en rose, asook in ’n pot of hangmandjie. Plant dit langs ’n paadjie of selfs in die ruimtes tussen plaveiblokke vir ’n treffende voorkoms. Heuningblommetjies, wat in wit en skakerings van pers en pienk te kry is, blom vir maande aaneen in die somer. Plant dit in komposryke grond wat goed dreineer. Dit verg min onderhoud en is redelik droogtebestand.

Plantgids
  • Volson tot halfskaduwee
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • Hoogte 15 cm

Portulak

(Portulaca grandiflora)

Met sy vetplantagtige blaartjies en helderkleurige blomme is portulakke ’n moet in ’n somertuin. Hulle blom in ’n groot verskeidenheid helder kleure – oranje, geel, pienk, pers en ook wit. Sespakke van een kleur en sespakke met plantjies in ’n mengsel van kleure is beskikbaar. Dié eenjarige aard goed in ’n warm, droë en sonnige bedding en gee nie om vir arm grond nie, solank dit goed dreineer. Portulakke is gehard en wil nie te veel water hê nie; laat die grond eers uitdroog voor jy weer natmaak.

Plantgids
  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Redelik rypbestand
  • Hoogte 15 cm

Afrikaner

(Tagetes-spp.)

Afrikaners is so maklik om te kweek. Plant hulle in ’n bedding of ’n pot – selfs in die groentetuin, waar hulle plae help uithou! Die plante is oral beskikbaar in dwerg- sowel as hoër variëteite met blomme in skakerings van geel, oranje en brons. Dié eenjarige aard goed in warm klimate in feitlik enige tipe grond wat goed dreineer. Hou dit nat in droë tye, maar moenie te veel water gee nie. Sny gereeld dooie blomme uit vir ’n mooi vertoning die hele somer deur!

Plantgids
  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypgevoelig
  • Hoogte 15–60 cm
Eenjariges is die ideale plantjies om kinders by tuinwerk te betrek. Hulle kan dit self plant en sal gou die resultate van hul handewerk sien! – Helia
Nog somerstaatmakers
  • baardangelier (Dianthus barbatus)
  • jakobregop (Zinnia elegans)
  • hanekam (Celosia plumosa)
  • kosmos (Cosmos bipinnatus)
  • Torenia fournieri

Vir die winter

Viooltjies en gesiggies

(Viola-spp.)

Wat is nou mooier as ’n pot vol gesiggies of viooltjies vir kleur in die winter. Al twee dié blomme behoort tot die Viola-familie en lyk baie eenders. Viooltjies het net kleiner blommetjies as gesiggies en baie gesiggies het donker vlekke in die middel van die blom wat die “gesiggie” daarvan vorm. Boonop is albei eetbaar en lyk hulle pragtig as versiering in enige gereg of op soetgebak.

Plant dit in goed voorbereide, komposryke grond. Hou dit nat en breek dooie blommetjies gereeld af. Dit aard feitlik oraloor in die land.

Plantgids
  • Halfskaduwee tot volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • 15–20 cm hoog

Engelse madeliefie

(Bellis perennis)

Plant Engelse madeliefies in gefiltreerde son onder ’n boom, op die rand van ’n bedding en selfs as ’n grondbedekker. Die klein blommetjies verskyn in die winter en sal tot laat in die lente kleur gee. Dit is in skakerings van pienk, skarlakenrooi en ook in wit te kry in enkel- sowel as dubbelblomme. Plant dit in komposryke grond en gee gereeld water. Engelse madeliefies verkies koeler klimate en sal, indien hulle gelukkig is, vinnig vermeerder.

Plantgids
  • Halfskaduwee tot son
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • Hoogte 15 cm

Feetjieprimula

(Primula malacoides)

Dié fyn en delikate blommetjie in wit en skakerings van pienk en pers blom laat in die winter tot in die lente. Feetjieprimulas lyk pragtig as ’n groot groep van hulle onder bome groei; of plant dit in ’n pot, langs ’n paadjie of voorlangs in ’n bedding. Die plant lyk ook mooi wanneer dit saam met bolle soos druifhiasinte en affodille groei. Plant dit in komposryke grond in ’n koel plek in die tuin. Hou dit nat in droë tye.

Plantgids
  • Halfskaduwee tot skaduwee
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • Hoogte 20–25 cm
Nog winterstaatmakers
  • bokbaaivygie (Dorotheanthus bellidiformis)
  • cineraria (Senecio-hibriede)
  • ornamentele kool (Brassica oleracea)
  • Yslandse papawer (Papaver nudicaule)
  • pronkertjie (Lathyrus odoratus); let wel, in sommige dele van die land blom dit eers in die vroeë lente

Plantwenke

  • Wag tot die rypgevaar verby is voor jy eenjariges plant. Erge koue sal dit knou.
  • ’n Bedding met eenjariges lyk baie mooier as die plantjies nie in ’n reguit ry geplant is nie, maar op ’n meer natuurlike manier.
  • Beskerm jou plantjies teen slakke. Die jong, groen blaartjies is vir hulle koningskos!
  • Verwyder die blomme en die eerste blomknoppe van nuut geplante eenjariges sodat die plant aanvanklik al sy energie vir groei gebruik, eerder as vir blomme.
  • Sny gereeld dooie blomme af om te verseker dat dit vir maande aaneen mooi lyk. Sodra dit begin saad vorm, sal die plant minder blom.
  • Laat die plante aan die einde van die seisoen saad skiet voor jy dit uittrek en op die komposhoop gooi.
Bronne

Reader’s Digest 1001 Hints & Tips for the Garden; Reader’s Digest A South African Garden for All Seasons met hoof-medewerker Jennifer Godbold-Simpson; Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten; gardenia.net; plantinfo.co.za

KONTAK Helia Smit, Cape Garden 021 988 4137, capegardencentre.co.za