Foto Francois Oberholster

Met sy fyn silwergrys blaartjies is soutbos veelsydig, waterwys en ’n maklike groeier. Jy kan dit as ’n heining, as vormsnoeiplant of, in wilder dele van jou tuin, selfs as ’n grondbedekker inspan. Die grys blaartjies kontrasteer pragtig met ander kleure in die tuin en maak ’n mooi fokuspunt in ’n gesnoeide vorm.

Soutbos groei vinnig, en ’n kreatiewe snoeier sal dit gou na hul hand kan vorm. Vir ’n heining, plant die bosse sowat 30 cm uitmekaar en sny dit van jongs af terug om te verseker dat die plant ook onderlangs toegroei. Met verloop van tyd en gereelde snoeiwerk sal dit ’n digte heining vorm.

Dié plant is droogtebestand en aard goed in kustuine, vandaar die naam soutbos. Plant dit in grond wat goed dreineer en hou nat tot dit gevestig is; daarna het dit min water nodig. Soutbos is ook brandwerend, wat dit nuttig maak in veldtuine.

Só maak jy ...

Martie de Wet van Fresco Landscaping, wat vir die uitleg van Retha se tuin verantwoordelik was, sê dis maklik om soutbos in sulke netjiese “tafels” soos in dié klein tuin te snoei. Die plante wat sy gebruik het, was in 4 kg-houers en sowat 20 cm hoog met planttyd.

“Soutbos was die ideale plant vir dié vorm,” verduidelik sy. “Plant die soutbosse in ’n sigsag-patroon, sowat 30 tot 40 cm uitmekaar. Sny van die begin af kort-kort die nuwe groeipunte met omtrent 2 cm terug sodat dit ’n bos vorm wat sywaarts groei en ‘vet’ word. Jy wil nie lang takkies hê nie, maar plante wat sywaarts uitsit.

“Sodra die plante aan mekaar raak, kan jy dit as ’n eenheid begin snoei en nie meer elke plant individueel nie. Span ’n tou bo-oor al die plante om seker te maak jy sny dit reguit in die horisontale vorm. Hoe meer jy snoei, hoe mooier raak die geheel,” sê sy. “En wees maar geduldig. Dit neem ’n seisoen of twee om so ’n digte tafel te vorm. Snoei die tafel gereeld; die plante sal vir jou wys wanneer dit gedoen moet word. Gee dit elke maand vloeibare plantkos soos Nitrosol of Seagro as jy wil hê dit moet vinnig groei.”

Plantgids
  • Volksnaam Soutbos
  • Botaniese naam Rhagodia hastata sin. Einadia hastata
  • Volson
  • Waterwys
  • Redelik rypbestand
  • Immergroen
  • Windbestand

Bronne Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten; pza.sanbi.org; lifeisagarden.co.za; thegardener.co.za

KONTAK Fresco Landscaping dewetmartie@gmail.com