Dié inheemse plant is ’n ou bekende in Suid-Afrikaanse tuine. Sy oranje-en-blou blomme herinner aan die kop van ’n kraanvoël, vandaar sy volksnaam, “kraanvoëlblom”.

Strelitzias is op hul mooiste van die laat herfs tot vroeë somer en verskaf winterkleur wanneer die blomme een na die ander verskyn op lang, sterk stele wat bo die blare uitgroei. Die struik se grysgroen blare is heeljaar mooi en is net so nuttig in rangskikkings as die blom. Selfs net enkele blomme of blare in ’n groot glaspot lyk pragtig en hou lank in water!

Die immergroen plant kom natuurlik voor in die kusgebiede van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, en aard veral goed in rypvrye tuine. Dit groei wel in dele met ligte tot matige ryp; plant dit dan op ’n beskutte plek.

Die plante hou van goed gedreineerde, komposryke grond in volson of waar dit minstens die helfte van die dag son kry. Hoe meer son, hoe meer blom dit en hoe aantrekliker is die plant. Moenie dooie blomkoppe dadelik afsny as dit klaar geblom het nie – dit gee interessante tekstuur aan die tuin. Ná blomtyd verander die steel se punt en blomkelk in skakerings van salmpienk tot vlamrooi. Sny eers af wanneer die blom bruin word.

Volwasse plante kan in die herfs verdeel word, maar dit neem die plant ’n paar jaar om te herstel en weer vol in die blom te wees. Tog is dit goed om ouer plante te verklein en netjies te maak, want dit raak met verloop van tyd onnet en onaantreklik. Dun die lelike en geskeurde blare uit en sny dooie blare gereeld af.

Strelitzias is droogtebestand en het min water nodig as dit eers gevestig is. Dit verg ook min onderhoud.

Het jy geweet?

Daar is vyf Strelitzia-spesies in Suid-Afrika, waarvan S. reginae die gewildste is. Die bekendste kultivar wat hiervan gekweek is, is Strelitzia reginae ‘Mandela’s Gold’ waarvan die kelkblare geler is as dié van die gewone kraanvoëlblom. Die ander spesies is S. alba, S. caudata, S. nicolai (die Natalse wildepiesang, ’n groot tropiese plant) en S. juncea, die biesiekraanvoël, met blare soos biesieagtige lote. Strelitzia reginae en S. juncea kan as potplante gekweek word – maak net seker die houer waarin jy dit plant, is groot genoeg.

Plantgids

Volksnaam Kraanvoëlblom
Botaniese naam Strelitzia reginae

  • Volson
  • Redelik rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Windbestand
  • Geskik vir kustuine
  • Groei 1,5 m hoog en 2 m wyd
  • Goeie snyblom
Bronne
  • Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten
  • Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? deur Kristo Pienaar
  • Cut Flowers of the World deur Johannes Maree en Ben-Erik van Wyk
  • Reader’s Digest A South African Garden for All Seasons met hoofmedewerker Jennifer Godbold-Simpson
  • De Kruidenier Eksklusiewe Tuine