Foto’s Francois Oberholster | Stilering Melissa Rautenbach

Ons inheemse swartoognooi (Thunbergia alata) is nommerpas vir ’n klein tuin. Sy groei vinnig, maar ken haar plek; en sy blom vir maande aaneen sonder veel aandag of snoeiwerk.

Dié ranker se lang, slingerende takkies draai hulself vinnig aan ’n raamwerk of draadheining vas. Omdat dit ’n ligte plant is, het dit nie ’n swaar struktuur nodig vir ondersteuning nie. Dit sal ook teen ’n pilaar of ’n enkele paal oprank; of laat groei ’n boog daarmee toe. Die dun takke en oorvloed blomme sal enige struktuur verfraai.

Die swartoognooi se helderoranje blomme met ’n duidelike swart ogie in die middel is alombekend. Die plant is ook algemeen beskikbaar met geel blomme, en party variante het selfs ’n roomkleurige, wit, appelkoos of amper rooi blom – almal met ’n swart ogie, vandaar die naam. Dié nooi blom die hele somer lank en in warmer dele feitlik dwarsdeur die jaar. Selfs jong plante blom met ywer. Dit word as ’n meerjarige plant beskou, maar omdat dit rypgevoelig is, kweek tuiniers in baie koue dele dit as ’n jaarplant.

Plant dié ranker in komposryke grond, beskerm dit teen sterk wind en hou goed nat tot dit gevestig is; daarna het dit ’n gemiddelde hoeveelheid water nodig. Dit moet veral in die somer in winterreën-gebiede nat gehou word. Gooi in die somer ’n deklaag van kompos oor die wortels om dit koel te hou.

Swartoognooi het min snoei nodig. Sny terug as dit te groot word, maar dit gebeur nie sommer nie. Vir meer blomme kan jy dit liggies terugsny in die lente. Indien dit deur ryp beskadig is, sny die plant tot op die grond af; dit behoort weer uit te loop en vinnig terug te groei. Dié klimplant groei ook maklik van saad – kyk uit daarvoor by kwekerye.

Kies reg

  • Selfs ’n klein ruimte het ’n klimplant nodig, maar dis belangrik dat jy die regte plant kies as jou plek baie knap is. ’n Te wilde groeier sal gou-gou die ruimte oorheers en baie snoeiwerk nodig hê om dit in toom te hou. Kies liewer ’n klimplant wat van nature kleiner bly en nie kort-kort teruggesny hoef te word nie.
  • Klimplante wat blom of wat mooi herfskleure maak, is ’n goeie keuse, want dit gee hulle ’n dubbele doel: Behalwe dat dit ’n muur of stellasie toegroei, is die blomme en herfsblare ’n bonus.
  • Plant een met ’n geurige blom naby ’n stoep of ’n kamervenster.
  • Bladwisselende klimplante werk goed waar jy son in die winter wil hê, maar kies ’n immergroen plant om ’n onooglike heining of muur toe te rank.
  • Maak seker hoeveel son of skaduwee die beoogde plantplek kry voor jy jou plant kies. ’n Klimplant wat op die regte plek staan, sal soveel beter aard en vinniger die bepaalde ruimte toegroei.
  • Sit ’n netjiese raamwerk op (onthou, in ’n klein ruimte is die raamwerk meer opsigtelik as in ’n groot tuin); vir die meeste kleiner klimplante is ’n ligte raamwerk voldoende. Bind die klimplant namate dit groter groei getrou vas om dit netjies te help oprank.
Plantgids
  • Volson tot halfskaduwee
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypgevoelig
  • Immergroen
  • Hoogte 1,5–2 m
  • Wydte 1 m

Nog klimplante vir ’n klein tuin

  • Klimrose soos ‘Renae’, ‘Purezza’ en ‘Ballerina’
  • Chileense jasmyn (Mandevilla laxa)
  • Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides)
  • Chinese jasmyn (Jasminum polyanthum)
  • Kruipvy (Ficus pumila)
  • Muehlenbeckia complexa
  • Vlamlelie (Gloriosa superba)*
  • Sterretjies-jasmyn (Jasminum multipartitum)*
  • Klimop (Clematis brachiata)*
  • Slingermagriet (Senecio macroglossus)*

* inheems

Bronne

Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten

Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? deur Kristo Pienaar

Reader’s Digest A South African Garden for All Seasons met hoofmedewerker Jennifer Godbold-Simpson

pza.sanbi.org

capegardencentre.co.za