Foto’s Francois Oberholster | Stilering Melissa Rautenbach

Dié inheemse vetplant is perfek vir ’n waterwys tuin. Dit groei maklik, het min water nodig en sal in verskillende tipes beddings mooi lyk – in ’n rotstuin, ’n blombedding of in ’n pot in die son. Selfs wanneer dit nie blom nie, verskaf die interessante blaarvorms tekstuur aan ’n tuin.

Varkoorplakkies (Cotyledon orbiculata) hou van grond wat goed dreineer. Hoewel hulle meestal in volson groei, aard hulle ook in halfskaduwee en onder bome. Met blomtyd verskyn ’n trossie klokvormige blomme op ’n lang steel wat bo die blare uitgroei. Die helder kleure van die meestal oranje-rooi blomme lok bye en suikerbekkies. Sommige se blare het ’n fyn rooi omranding wat dit nog mooier laat lyk. Pluk gerus ook ’n steel met blommetjies of selfs ’n takkie met net blare aan en sit dit in ’n pot in jou huis; die blomme én blare hou lank in water. Met verloop van tyd sal die takkie in die blompot wortels vorm en kan jy dit elders in jou tuin plant.

Varkoorplakkies is maklik om te vermeerder en groei van saad en steggies. Saai saad in die lente en moenie te veel water gee nie – hou dit klam, maar nie deurdrenk nie. Vir steggies, gebruik die boonste sowat 15 cm van die steel en plant dit in potjies met goed gedreineerde grond. Hou dit redelik droog, anders kan dit vrot. Plant uit sodra die steggie genoeg wortels gevorm het en omtrent 20 cm hoog is. Varkoorplakkies verg min onderhoud; hou net dop vir slakke.

Het jy geweet?
Die naam varkoorplakkie is afkomstig van die ovaal vorm van die grysgroen blare van sommige variëteite.
Plantgids
  • Volksnaam Varkoorplakkie/plakkie
  • Botaniese naam Cotyledon orbiculata
  • Volson
  • Rypbestand
  • Waterwys
  • Meerjarig

Cotyledon orbiculata var. oblonga ‘Takbok’

KIES EN KEUR

Daar is vyf Cotyledon orbiculatas wat in verskillende habitatte oor die hele Suid-Afrika voorkom – sommige met groter, gryser of groener blare, ander se blare is weer kleiner of het interessante vorms. Van die kultivars wat beskikbaar is, is C. orbiculata var. oblonga ‘Takbok’, waarvan die grys blare die vorm van ’n takbok se horings het, en C. orbiculata var. oblonga ‘Flavida’, met blare wat soos vingers lyk. Blomtyd wissel van laatsomer tot herfs en ook in die winter. Plant ’n verskeidenheid vir ’n interessante voorkoms in jou waterwys bedding!

Bronne
  • Waterwise Gardening in South Africa and Namibia deur Ernst van Jaarsveld
  • Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten
  • pza.sanbi.org
  • abcjournal.org