Foto’s Francois Oberholster en Justin Patrick

Scadoxus membranaceus

Die seeroogblom is die kleinste spesie in die Scadoxus-genus. Dis immergroen en laaggroeiend, en spog met besonder groot blomskede rondom die poeierkwasblom, wat dit baie groter laat vertoon. Dit blom van Desember tot middel April.

Scadoxus-spesies

Vir ’n mooi vertoning onder bome of aan die skadukant van die huis is die inheemse Scadoxus ideaal. Die Scadoxusspesies behoort tot die Amaryllidaceae-familie en van die nege familielede kom drie spesies natuurlik in Suid-Afrika voor: die bladwisselende rooikwas (Scadoxus puniceus), wat met helderrooi blomme in die lente spog; die immergroen seeroogblom (S. membranaceus), wat van die somer tot in die herfs blom; en die immergroen bloedblom (S. multiflorus), wat op lang stele blom van die middeltot laatsomer.

Scadoxus lyk mooi in ’n groep onder bome. Plant die bolle in goed gedreineerde, komposryke grond en moet dit nie onnodig skuif of versteur nie – dit sal hul blomvermoë beïnvloed. Die plant aard ook goed in potte en lok bye, skoenlappers en voëls.

Wees net op die uitkyk vir die lelieboorwurm wat groot skade kan aanrig. Slakke is ook lief vir die plant se blare.

Plantgids (al die spesies)

  • Halfskaduwee tot skaduwee
  • Rypgevoeligheid wissel
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Inheemse bolplant
  • Hoogte wissel van 15 cm tot 1 m
  • Alle dele van die plant is giftig

Poeierkwas (Haemanthus albiflos)

Met blomkoppe wat soos ’n poeierkwas lyk, is die noemnaam van dié inheemse bolplant voor die hand liggend. Die poeierkwas het ’n baie lang blomtyd – van April tot so laat as Julie. Dis perfek vir ’n skadutuin en dele met min lig waar die bolle gelos kan word om vanself te vermeerder. Die blomkop bestaan uit baie lang, dun wit blommetjies met duidelike heldergeel tot oranje meeldrade en lang, lintvormige blare. Wit en groenerige skutblare omring die blom, wat dit groter laat vertoon. Die blomme word gevolg deur helderrooi bessies wat voëls lok.

Poeierkwas hou van komposryke leemgrond en moenie onnodig versteur word as dit eers goed gevestig is nie. Plant die bolle aanvanklik sowat 10 cm uitmekaar. Dit vermeerder vanself en sal met verloop van tyd die hele area toegroei.

Die plant aard ook goed in potte en selfs as huisplant in gefiltreerde lig, maar nie in direkte sonlig nie. Die potte hoef nie diep te wees nie, aangesien die bol se wortels horisontaal versprei. Gevestigde bolle sal jaar ná jaar getrou blom en hoef eers verdeel te word as dit minder begin blom.

Hoewel die plant redelik plaagvry is, moet ’n mens uitkyk vir die lelieboorwurm.

As dit ’n probleem is (gewoonlik gedurende die lang, warm somermaande), vang die vabonde! Sny ook die beskadigde blare af en vernietig dit.

Poeierkwas hou van dieselfde groeiomstandighede as boslelies (Clivia miniata), wat dit ’n goeie pasmaat maak.

Plantgids

  • Halfskaduwee tot skaduwee
  • Rypgevoelig
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Inheems
  • Hoogte sowat 25 cm

Het jy geweet?

Daar is 22 Haemanthus-spesies en die oorgrote meerderheid kom natuurlik in Suid-Afrika se somer- sowel as winterreëngebiede voor. Drie van die spesies is immergroen, waarvan poeierkwas die bekendste is en die meeste in tuine geplant word. Die woord “albiflos” verwys na dié plant se wit blom. Die meeste van die ander Haemanthus-spesies blom in skakerings van rooi en pienk. Sowat 12 van dié plante is op Suid-Afrika se rooidatalys vir bedreigde spesies.

Bronne Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten; Waterwise Gardening in South Africa and Namibia deur Ernst van Jaarsveld; pza.sanbi.org; shirebulbs.co.za