Foto’s Francois Oberholster • Stilering Melissa Rautenbach

Wat is nou mooier as ’n slaai versier met kappertjies, of ysblokkies met gesiggies daarin? Met eetbare blomme het jy kleur en geur in jou tuin én op jou bord! Ons het gaan kers opsteek by Megan McCarthy, die tuinboukundige verantwoordelik vir die groentetuin op die plaas Boschendal buite Franschhoek.

“Van al die produkte wat ons hier op Boschendal kweek, bring eetbare blomme vir my die meeste vreugde. Dié blomme, wat tussen die groente groei, is net so deel van Boschendal se koservaring soos die res van die oes,” vertel sy. Op Boschendal word ’n lang lys blomme vir dié doel geplant. Hier is vier van Megan se gunstelinge, met raad hoe om dit self te kweek en te gebruik. Almal sal goed aard in die meeste tuine reg oor die land.

Daar heers ’n onuitgesproke kameraadskap tussen dié wat plant, dié wat bestuif en dié wat geniet. Dit gee begrip vir hoe nodig ons mekaar het en hou ons nederig. – Megan

Bernagie/Komkommerkruid

Borago officinalis

Die hemelsblou stervormige blommetjie van komkommerkruid is pragtig in die tuin en gee baie kleur aan kos. Boonop is dit goed vir jou grond!

Kweek dit so

Saai saad direk in ’n bedding of plant saailinge – verkieslik in die lente – in komposryke grond in volson. Plant saailinge sowat 60 cm–1 m uitmekaar. Komkommerkruid saai homself baie maklik; as jy dit eenmaal in jou tuin het, sal dit jaar ná jaar weer opkom. Dun saailinge wat vanself opkom uit as dit te na aan mekaar groei. Hou klam in droër maande, maar moet dit nie te nat maak nie. Dis soms nodig om groter plante liggies te stut.

Kombuisgebruik

Die blommetjie het ’n delikate, komkommer-agtige smaak. Gebruik dit in slaai, vrugteslaai, gooi dit in ’n drankie of versier ’n gereg daarmee. Die fyngekapte jong blaartjies is ook eetbaar en is heerlik in roerbraai en slaai.

Ander nut

Komkommerkruid lok bye na jou tuin en is ’n uitstekende komposaktiveerder. Wanneer komkommerkruid klaar geblom het, gooi dit op die komposhoop of spit ou plante in die beddings in. Dit stel voedingstowwe stadig vry en verbeter die gehalte van jou grond. Of week blare in water om ’n natuurlike vloeibare kunsmis te maak: Plaas blare in ’n houer en bedek dit met water. Sit ’n deksel op die houer en laat dit vir twee weke staan. Haal die blare uit en verdun 1 deel van die vloeistof met 10 dele water; voed dan jou plante daarmee. Die mengsel kan vir lank gebêre word.

Pasmaats

Die meeste groente groei goed saam met komkommerkruid. Eiervrug, aarbeie, komkommers, skorsies, murgpampoentjies en tamaties is goeie pasmaats. Dié krui verbeter die smaak van sy pasmaats, veral aarbeie en tamaties.

Plantgids

  • Volson
  • Rypgevoelig
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Eenjarig
  • Hoogte 60 cm–1 m

Kappertjies

Tropaeolum majus

Wie ken nou nie kappertjies met hul vrolike oranje en geel blommetjies wat ’n oorvloed kleur verskaf nie? Plant ’n paar in jou groentetuin of ’n massa bymekaar onder bome vir baie trefkrag.

Kweek dit so

Druk saadjies in die herfs of die lente in klam, komposryke grond. Die saadjies is so groot soos ’n ertjie, wat dit maklik maak om een-een te saai. Kappertjies aard goed in volson, sowel as onder bome in gefiltreerde sonlig. Hulle hou van klam grond en groei goed in natter dele van die tuin. En as dié outjies eers eenmaal in ’n bedding gegroei het, kom hulle elke jaar weer daar op. Versamel aan die einde van die seisoen die saadjies wat op die grond bly lê, laat dit goed droog word en saai volgende seisoen weer. Daar is dwergvariëteite wat meer bosserig groei, sowel as rankvariëteite beskikbaar. Kyk op die saadpakkie watter een jy koop.

As plantluise ’n probleem is, spuit met seepwater of vee dit af met ’n klam doek. Koolruspes kan ook ’n kopseer wees. Vang hulle of breek die blare af waarop die wurms eiers gelê het. As die plant te veel gevreet is, trek dit liewer uit.

Kombuisgebruik

Kappertjies is pragtig as garnering in enige gereg. Gebruik die helderkleurige blommetjies en blare heel in ’n slaai of op ’n toebroodjie. Dis ook lekker saam met die meeste kase, en die blomme maak ’n heerlike pesto. Die saadjies is perfek vir piekel.

Ander nut

Kappertjies is wonderlik vir die immuunstelsel. Kou elke dag ’n blaar om jou gesond te hou! Die blomme lok skoenlappers en bestuiwers.

Pasmaats

Boontjies, die koolfamilie, mielies, komkommers en tamaties.

Plantgids

  • Volson en halfskaduwee
  • Redelik rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Eenjarig
  • Hoogte 30–40 cm

Duiwel-in-die-bos

Nigella damascene en N. sativa

As jy eers ’n Nigella in jou tuin het, sal jy elke jaar met meer plantjies oraloor in jou tuin beloon word! Dit blom in blou, pienk en wit.

Kweek dit so

Saai saad in die herfs en lente in komposryke grond wat goed losgemaak is. Werk droë perdemis in as jy dit kan kry. Dié plante is redelik gehard en vra nie baie water nie, veral as die grond goed voorberei is. Hou saailinge nat totdat hulle goed gevestig is en dun dié wat te dig opmekaar groei uit. Sny droë saadkoppe aan die einde van die seisoen af en skud die saadjies in ’n papiersak uit. Die saadkoppe lyk baie mooi in ’n rangskikking. Plant blou Nigella saam met rooi papawers vir ’n weiveld-voorkoms.

Kombuisgebruik

Die blomme lyk pragtig as garnering. Breek die blomblaartjies af en gebruik dit in slaai en vrugteslaai. N. sativa se saad is heerlik in kerries en komplementeer die geure van komyn en fenegriek.

Pasmaats

Papawers, ertjies, radyse en blaarslaai.

Plantgids
  • Volson
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Eenjarig
  • Hoogte 30–50 cm

Baardangeliere

Dianthus barbatus, D. chinensis en hibriede

Baardangeliere is nie net mooi nie, hulle ruik ook heerlik!

Kweek dit so

Saai of plant dié tweejarige in die herfs of lente in goed gedreineerde, komposryke grond. Plant dit sowat 20–30 cm uitmekaar. Hou die plante nat in droër maande en voed dit minstens een keer in die groeiseisoen met ’n gebalanseerde middel soos Nitrosol of Seagro. Sny gereeld blommetjies vir gebruik om te verseker dat die plante vir maande aaneen blom. Versamel droë saadkoppe aan die einde van die seisoen en skud die saadjies uit in ’n papiersak. Bêre op ’n droë plek en saai dit die volgende seisoen weer. Wanneer die plant onnet raak, sny dit netjies om nuwe groei aan te moedig.

Kombuisgebruik

Gebruik blommetjies as garnering in slaai, vrugteslaai of om enige gereg op te vrolik.

Ander nut

Lok skoenlappers en bestuiwers.

Plantgids
  • Volson
  • Redelik rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Tweejarig
  • Hoogte 15–30 cm
Wenke
  • Die blomme van kombuiskruie soos laventel, komkommerkruid, kamille, tiemie, salie en grasuie het ’n soortgelyke geur as die blare en kan geëet of as garnering gebruik word.
  • Eetbare blomme in slaai lyk pragtig, veral as die blomme se kleure by dié van die slaai pas. Geel en oranje kappertjies of die blomblaartjies van gousblomme vrolik ’n groen slaai lieflik op!
  • Maak altyd seker die blom is eetbaar voordat jy jou mond daaraan sit.
  • Oes blomme vroegoggend voor dit in die hitte verwelk. Die blomme moet verkieslik droog wees wanneer jy dit pluk.
  • Moet nooit blomme op ’n bord of in ’n slaai sit indien dit met gifstowwe bespuit is nie. Die veiligste is om jou eie organiese eetbare blomme te kweek.
  • Indien jy nog nooit ’n blom in kos teëgekom het nie, vat eers net ’n klein happie om seker te maak jy is nie allergies daarvoor nie.
  • Met groter blomme soos daglelies en rose moet jy eers die helmknop en stamper verwyder, aangesien dit bitter kan wees.
  • Hoe soeter die geur van ’n eetbare blom, hoe lekkerder proe dit. Dit geld veral vir rose. Kies dus jou geurigste rose vir jou bord!
  • Groenteblomme soos dié van boontjies, pampoen, ertjies en murgpampoentjies is ook eetbaar. Onthou net, as jy die blom pluk, pluk jy ’n potensiële pampoen of watter groente jy ook al sou oes. Pluk dus net hier en daar ’n groenteblom, of as jy te veel het.
  • As jy nie dadelik al die blomme wat jy gepluk het, gebruik nie, bêre dit in ’n lugdigte sakkie in die yskas. Dit sal ’n paar dae hou.

Tuinplan

Eetbare blomme is mooi oraloor in jou tuin of in ’n groentetuin.

As jou plek min is, plant net een ry eetbare blomme saam met een of twee rye groente. Met eetbare blomme tussen die groente is alles bymekaar wanneer jy oes en gee dit kleur wat die groentetuin nog mooier laat lyk! Boonop lok die blomme voëls en insekte wat plae soos wurms en plantluise tussen die groente eet. Pluk die blomme gereeld om dit vir lank te laat aanhou blom.

Plantlys

1. Roos
2. Komkommerkruid
3. Kappertjies
4. Malva
5. Bloubessie in balie
6. Wortels
7. Blaarslaai
8. Blomkool
9. Spinasie
10. Gousblom
11. Baardangeliere
12. Gesiggies
13. Pynappelsalie
14. Ertjies
15. Beet
16. Krulkool
17. Boontjies
18. Sonneblomme
19. Laventelheining

Nog eetbare blomme

Kaliforniese papawers, kamille, daglelies, vinkel, fuchsias, hibiskusse, malvas, roosmaryn, leeubekkies, sonneblomme – en dié hieronder:

Bronne
  • Boschendal (boschendal.com)
  • Jane’s Delicious Garden deur Jane Griffiths
  • Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten
  • Readers Digest 1001 Hints & Tips for the Garden, gardeningknowhow.com
  • jenny@earthartist.co.za