Aeonium arboreum

Net soos Echeverias het Aeoniums vlesige blare in die vorm van groot rosette in ’n verskeidenheid kleure; die treffendste kleur is wynrooi met swart ondertone. Dié dramatiese plante is beskikbaar in verskeie groottes en tipes. Met hul talryke lang, kaal stele, elkeen met ’n roset op die punt, lyk dié vetplante amper bonatuurlik. Party is kompak, ander is struikagtig en die hoogstes selfs boomagtig.

Kweek dit so Anders as ander vetplante moet Aeoniums meer gereeld water kry. Omdat hulle ’n vlak wortelstelsel het, moet hulle nie heeltemal uitdroog nie. Dié wintergroeiers is rypgevoelig en gedy in warmer, beskutte tuine. Die meeste Aeoniums kom van die tropiese Kanariese Eilande en sommige van Oos-Afrika. Hulle moet minstens ses uur sonlig per dag kry om die treffende kleure uit te bring. ’n Bietjie kompos by die grond gemeng wanneer jy plant sorg vir vrugbaarheid en goeie dreinering.

Gebruike in die tuin Omdat Aeoniums in die algemeen hoog groei, kan jy hulle aan die agterkant van ’n gemengde vetplantbedding plant. Hulle het die grootste trefkrag in massa-aanplantings. Gebruik die wynrooi variëteit vir kontras, en dié met gespikkelde rosette as fokuspunt in ’n randakker. Aeoniums met diepgroen rosette laat plante met vurige kleure soos Euphorbia ‘Firesticks’ lieflik uitstaan en dit word gewoonlik gebruik saam met Agaves, aalwyne, crassulas en selfs een- en meerjarige plante wat min water vra.

Het jy geweet? Die plante vaar ook goed in vlak houers en kan op die stoep of binnenshuis op ’n sonnige venster-bank staan. Plante in houers moet gereelder water kry as dié in die grond.

Algemene probleme Wortelvrot is ’n probleem wanneer die grond nie goed dreineer nie of as die plant te veel water kry. Indien jou plante ’n infestasie van dopluise of spinmyte kry, smoor dit deur met neemolie te spuit. Seperige spuit- middels is nie ’n goeie opsie nie, want dit kan die plant se huid beskadig.

KONTAK Ngena Succulents; e-pos john@ngena.africa