Agave attenuata

Dié plant se lang, geboë stam en blom is die rede vir sy volksnaam, leeustert. Dis ’n groot, aantreklike meerjarige vetplant, en met sy sagte silwergroen rosette wat soos ’n oop blom lyk, is dit altyd ’n apploustrekker. Omdat die plant, oorspronklik van Mexiko, waterwys, droogtebestand, nie-indringend en maklik is om te kweek, is dit ’n aanwins vir jou tuin.

Kweek dit só

Plant dié agave in volson of gedeeltelike skadu in grond wat goed dreineer. Gee net af en toe water sodat die grond nie heeltemal uitdroog nie; kunsmis is nie nodig nie. Klonale rosette vorm om die basis van die plant, en as jy dit so los, sal dit ’n bos vorm. Anders kan jy dié plantjies van die moederplant losmaak en uitplant. Namate dit groter groei, vorm die plante stele van tot 120 cm lank, wat hoogte aan ’n tuin verleen.

Gebruike in die tuin

Gebruik groot, indrukwekkende enkelplante omring deur laer plante as fokuspunte in ’n vetplanttuin, of laat die plant polle vorm vir ’n meer dramatiese effek. Dis die ideale aksentplant in tropiese sowel as in droë Mediterreense, stads- en kustuine, en ’n goeie opsie as treffende houerplant.

Algemene probleme

Agave attenuata is nie rypbestand nie en moet in die winter beskut word. Slakke en naakslakke vreet graag die jong blare. As die plant in te veel skaduwee staan, kan dit die swamsiekte antraknose opdoen; te veel water kan wortelvrot veroorsaak.

KONTAK Ngena Succulents; e-pos john@ngena.africa