Die robynrooi gelobde blare van die inheemse bosveldplakkie (Kalanchoe sexangularis) verleen helder kleur aan waterwys tuine in die winter. Dié vinnige groeier is immergroen, asook ryp- en droogtebestand. Weens die gewig van die blare het die klein struik ’n laaggroeiende groeiwyse, sodat dit ’n goeie grondbedekker maak. Geen ander vetplant het so ’n intense loofkleur nie en dis voorwaar ’n aanwins in die tuin.

Kweek dit so

Die plant vaar die beste in volson, wat die loofkleur uitbring; dit gedy ook in gedeeltelike skadu, maar dan is die kleur nie so intens nie. Plant dit in goedgedreineerde grond en moenie te veel water gee nie. Moedig geil nuwe groei aan deur ouer stele uit te sny of hard terug te snoei as die plant onnet begin lyk. In die winter verskyn klein geel blomme aan lang stele wat insekte en voëls lok.

Gebruike in die tuin

Benut die plakkie se treffende kleur ten volle deur dit in massas te plant. Dit kontrasteer mooi met die grys loof van inheemse wildeknoffel, Bulbinella, Senecio-variëteite, Cotyledon orbiculata en Crassula multicava. Plant dit in gemengde beddings saam met waterwys jaarplante en meerjariges, in rotstuine en houers.

Het jy geweet?

Vloeibare blaarvoeding sal die blare brand of vlek; indien voeding nodig is, kies ’n organiese korrelkunsmis.

Algemene probleme

Slakke en naakslakke vreet graag die blare. Verwyder hulle met die hand of strooi ’n organiese slakaas soos Ferramol. As wolluis of dopluis die plant aantas, spuit met ’n sistemiese insekdoder en ondersoek die grond vir swak dreinering.

KONTAK Ngena Succulents; e-pos john@ngena.africa