’n Minder bekende familielid wat ’n baie aantreklike tuinplant maak, is die gifmelkbos (Euphorbia mauritanica). Dit kom hoofsaaklik in die Noord-Kaap voor en groei tot 1m hoog. Dis ’n aksentplant met dun, silindriese stele wat van Augustus tot Oktober geel blomme op die punte dra. Die tros dun stele staan uit teen omringende plante en wieg in die wind, wat beweging aan ’n bedding gee.

Kweek dit só Te veel water is omtrent die enigste manier om dié plant dood te maak. Dit groei in volson, middagson of oggendskadu. Dit verdra swak grond mits dit goed dreineer, dis droogtebestand en kan lae temperature trotseer. Gee water in matige hoeveelhede en laat die grond uitdroog voor jy weer natmaak.

Gebruike in die tuin Die gifmelkbos groei vinnig en is ’n nuttige aksentplant, veral in klein tuine, tussen ander vetplante, langs droogtebestande loof en blomplante, in rotstuine en in houers. Die geel blomme lok bye en skoenlappers.

Het jy geweet? Die botaniese naam kom van die vroeë oortuiging dat die plant in antieke Mauritanië in Noordwes-Afrika ontstaan het. Plante is in die 18de eeu Europa toe geneem en daar geplant. Versigtig! Euphorbia mauritanica stel ’n melkerige sap vry as dit gesny word. Dit irriteer die oë en vel en is giftig as dit in groot hoeveelhede ingeneem word. Dra handskoene en beskerm jou oë wanneer jy die plant sny.

KONTAK Ngena Succulents; e-pos john@ngena.africa