Kraalmelkbos

Met sy vuurrooi-en-geel punte beïndruk Euphorbia tirucalli ‘Firesticks’ tuiniers reeds sedert sy bekendstelling. Dis amper die perfekte tuinplant: Dis droogtebestand, vra min aandag en is veerkragtig en veelsydig. Dit kan so groot soos ’n boom groei of kniehoogte gehou word.

Kweek dit so

Plant dit in volson in goed gedreineerde grond met ’n bietjie kompos. Die plante vaar ook goed teen skuinstes en in rotsriwwe, asook sanderige grond, wat dit ideaal maak vir kustuine. Maak in die somer een keer elke twee weke nat en laat die grond uitdroog voor jy weer natmaak. Om jong plante se groei aan te moedig, plant dit in komposverrykte grond en voed met ’n vloeibare misstof.

In die tuin

Dié veelsydige plant gedy in beddings wat warm middagson kry. Dis nuttig as vormplant of fokuspunt; snoei dit in ’n middelslag-heining of laat dit hoër groei as skerm of windskut. In kleiner tuine kan dit tot ’n medium-hoë struik gesnoei word. Dit groei ook goed in potte.

Het jy geweet?

Die kraalmelkbos dra vroeg in die somer piepklein blomme (min mense sien dit raak) wat massas skoenlappers en insekte lok. ’n Digte aanplanting van ‘Firesticks’ vorm ’n goeie rus- en broeiplek vir voëls.

Pasop!

Die wit sap is giftig as dit in groot hoeveelhede ingeneem word; dis ook ’n irritant, veral vir die oë. Sny of snoei die plante vroeg in die oggend wanneer daar min sap is. Sorg dat dit nie naby jou gesig en oë kom nie en dra klere met lang moue wat die vel op jou arms beskerm. Raadpleeg dadelik ’n dokter indien die sap in jou oë beland.

KONTAK Ngena Succulents; e-pos john@ngena.africa