Die sambokbos (Senecio ficoides) is ’n treffende struikie met spits blougrys blare wat silwerig lyk in die son. As ’n jong plant dra dit lang, regop stele met blare van onder tot bo. Die opwaartse groeiwyse laat dit uitstaan, en verleen tekstuur en kontras.

Kweek dit só

Plant in volson. Die plant verdra swak grond wat goed dreineer; werk ’n bietjie kompos in wanneer jy plant. Hou klam, maar nie te nat nie, tot gevestig; daarna is dit waterwys en hoef dit eers water te kry wanneer die grond heeltemal droog is. Die lang stele kan later afbuig en soos ’n grondbedekker groei terwyl dit grondlangs wortelskiet. Knyp die groeipunte af wanneer die plant 10–15 cm hoog is; dit moedig vertakking aan, wat die plant meer regop sal hou.

Gebruike in die tuin

Gebruik dit as aksentplant, in ’n gemengde bedding met ander vetplante of droogte­bestande een- en meerjariges. Dit kontrasteer mooi met geelblaar-Sedum en die rooi Kalanchoe sexangularis. Die plant is opvallend vir sy kleur, asook vir sy tekstuur en vorm. Omdat dit meer spreidend groei hoe ouer dit raak, moet jy genoeg ruimte los dat dit soos ’n grondbedekker kan uitsprei. 

Verskillende soorte

Senecio ficoides is die grootste van drie spesies. Die ander is die mediumgroot Senecio talinoides met blouerige dun, vingervormige blare, en Senecio serpens, ’n laaggroeiende dwergvariëteit met dikker blare. 

Het jy geweet?

Die plant kom oorspronklik van die Noord-Kaap (Namakwaland en Alexanderbaai), maar groei maklik in ander dele van Suid-Afrika, behalwe uiters koue dele. 

KONTAK Ngena Succulents; e-pos john@ngena.africa