Woestynrosie (Echeveria elegans)

is ’n eksotiese grondbedekker-vetplant oorspronklik van die halfwoestyne van Sentraal-Amerika. Sy vlesige rosetvorm is onmiddellik herkenbaar en waarskynlik die rede vir sy gewildheid. Dit het aanleiding gegee tot talle hibriede wat wissel in kleur en grootte. Plante groei maklik en vermeerder vinnig.

Kweek dit so

Echeverias verkies oggendson en ligte skadu in die middag. Reën en gereelde besproeiing is geen probleem nie, mits die grond baie goed dreineer. Laat die grond liewer uitdroog voor jy weer natmaak. Dit vaar ook goed in houers. As huisplante vra dit helder, indirekte lig. Echeverias hoef nie gesnoei te word nie, maar haal spruite (jong plante) af sodra hulle verskyn.

Gebruike in die tuin

Plant dié vetties as beddingrand of grondbedekker, tussen klippe of plaveistene en in gruistuine. Gebruik groter variëteite as fokusplante omring deur kleineres. Dis ook pragtig in houers. 

Soorte

Daar is honderde hibriede, van die groot ‘Mauna Loa’ met sy krullerige blare, ‘Sunset’ met goue blaarpunte, ‘Afterglow’ wat aan agave herinner, en donkerpers ‘Black Prince’. Groter variëteite met geplooide loof is rypgevoelig. Kleure hang af van blootstelling aan die son.

Het jy geweet?

Jy kan ’n nuwe plant kweek deur die spruit in ’n mengsel van sand, kompos en bogrond te sit, of sit ’n blaar bo-op die grond en laat dit wortelskiet. ’n Klein roset sal langs die blaar wat wortelgeskiet het, begin groei.

Algemene probleme

Echeverias kan vaal- en bakteriese vrot opdoen as dit te dig op mekaar geplant is of as hulle water op die hitte van die dag kry (ook wanneer water in die kroon bly lê).

KONTAK Ngena Succulents; e-pos john@ngena.africa