Kweek dit só Die plant kan volson of halfskadu (minstens vier uur sonlig) trotseer en gee nie om as hy afgeskeep word nie. Binnenshuis kan dit op of naby ’n sonnige vensterbank staan. Met minder son sal die rooi blaarpuntjies groen verkleur. In die tuin vaar dit die beste in grond wat goed dreineer. Moenie te veel water gee nie, aangesien die wortels kan verrot. Plaas dit as huisplant in ’n wasbak, maak goed nat en laat dit dan heeltemal dreineer; die plant moet amper heeltemal uitdroog voor jy weer water gee. Gee minder water in die winter. Die plant kan nie ryp verduur nie. In die tuin Aangesien die plant stadig groei en ’n boomvorm het, kan dit as bonsai gesnoei of in ’n terrarium geplant word.

In die tuin werk dit goed as ’n grondbedekker of klein struik saam met ander vetplante. Kyk in die herfs of vroeë lente uit vir klein, stervormige blommetjies.

Soorte Dit lyk en groei baie soos die Crassula ovata ‘Gollum’, maar laasgenoemde se blare is dikker.

Het jy geweet? Die kultivar kom van nature voor in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap waar dit in volson en met min reën op rotsagtige heuwelhange groei.

Algemene probleme Die plant is geneig om spigtig te raak, maar jy kan dit in ’n mooi vorm hou deur in die lente te snoei.

KONTAK ballstraathof.co.za