Lewisia ‘Elise Mix’, oorspronklik van die westelike dele van Noord-Amerika, is ’n blommende meerjarige hibried wat laag en kompak groei (15–30 cm hoog en wyd). Dit dra van laatlente tot vroegwinter (of die eerste ryp) helderkleurige blomme in skakerings van pienk tot diep magenta, geel, perske en oranje bo ’n roset van vleesagtige, lepelvormige groen blare.

Kweek dit só In koeler klimate vaar Lewisia die beste in volson, maar in warmer dele verkies dit gedeeltelike skadu. Die plant vra matig vrugbare, sanderige grond met goeie dreinering rondom die kroonarea. Wanneer dit gevestig is, is dit droogtebestand. Dit blom op sy beste wanneer dit gereeld water kry, maar wag tot die grond droog is voor jy weer natmaak, anders kan dit vrot. Voed een keer ’n maand tydens die groeiseisoen met ’n veeldoelige bemesting teen halfsterkte.

Gebruike in die tuin Dis ideaal vir rotstuine, tussen plaveiblokke en in gemengde beddings saam met ander vetplante of plante wat min water vra. Dit groei goed in houers, ook in die huis mits dit helder lig of son kry.

Het jy geweet? Lewisia cotyledon ‘Elise Mix’ het in 2018 die gesogte Fleuroselect- goue medalje ontvang.

Algemene probleme Die plant sal vrot as dit in die winter te veel water kry. Maak seker die grond dreineer goed en dat dit droog is voor jy natmaak. Beskerm dit ook teen plantluise, slakke en naakslakke.

KONTAK ballstraathof.co.za