Die blare se geel kleur verdiep in die son en die punte kan in die winter rooi verkleur. Hierdie pragtige spreidende grondbedekker is ’n aanwins in enige tuin.

Kweek dit só Soos alle vetplante hou ‘Golden Glow’ van grond wat goed dreineer en effens sanderig is; dit vra minstens ses uur oggendson, maar warm middagson kan die blare brand. Maak diep nat wanneer die grond heeltemal droog is – te veel water kan wortelvrot veroorsaak. Voed in die lente en somer met bemesting teen ’n kwart van die sterkte.

Gebruike in die tuin Dié sedum is nie net gewild vanweë sy kleur nie, maar ook omdat dit ’n lae, spreidende grondbedekker vorm wat vinnig groei. Gebruik dit in randakkers, langs inritte, tussen plaveistene, rondom die swembad of buitekuierplek, vir kleur in ’n rotstuin, en in potte. Die blare vorm geel rosette wat lieflik kontrasteer met vetplante met rooi en silwer blare. Wit stervormige blommetjies kan in die winter verskyn.

Het jy geweet? As potplant vaar ‘Golden Glow’ die beste in ’n ongeglasuurde kleipot; dié poreuse potte laat oortollige vog verdamp, wat die gevaar van oorbenatting en wortelvrot verminder.

Algemene probleme Die plante moet teen swaar ryp en reën beskerm word, veral in winterreënstreke. Laat hulle in die huis oorwinter in ’n vertrek met helder lig.

KONTAK Ngena Succulents; e-pos john@ngena.africa