Dit het ’n spreidende groeiwyse (tot 60 cm wyd) met kort, regop stele (20 cm lank), en stekelrige blare wat tekstuur aan ’n tuin verleen. In die middel van die somer verskyn trosse klein geel blommetjies wat skoenlappers lok. Dié hitte- en droogtebestande grondbedekker is ideaal vir droë, sonnige skuinstes en sypaadjietuine wat min onderhoud verg.

Kweek dit só Hoewel hierdie vetkruid in gedeeltelike skadu sal groei, verkies dit volson, wat die loofkleur uitbring (te veel skadu laat die kleur verdof). Dit groei in swak tot matig vrugbare grond wat goed dreineer. Maak minder nat wanneer dit gevestig is en hou die grond droog in die reënseisoen. Snoei die plant om dit netjies te hou.

Gebruike in die tuin Kies Sedum rupestre ‘Angelina’ vir tekstuur, kontras en helderheid in ’n bedding, veral tussen of langs plante met donker of wynrooi loof. Plant dit as grondbedekker in kronkelende stroke om ’n “rivier” van kleur te skep. Dis ook baie treffend in houers op sonnige stoepe of dekke, of waar dit oor rotstuine en mure tuimel.

Het jy geweet? Dié plant is bestand teen koue; in die winter verkleur die blare rooierig.

Goed om te weet Omdat die vlesige stele broos is en maklik afbreek, is dit nie bestand teen voetverkeer nie. Al versprei dit sonder moeite, is dit nie indringend nie en dis maklike genoeg om te snoei of uit te trek.

KONTAK ballstraathof.co.za