Wat sê ’n naam?

Tuinmaak is soveel interessanter as jy die betekenis van plantname begryp. ’n Naam help boonop die tuinier om die voorkoms en groeiwyse van ’n plant beter te verstaan, asook watter toestande dit verkies.

In 1707 het ’n Sweedse plantkundige, Carl Linnaeus, met ’n binomiale stelsel begin orde skep in die identifisering van plante. Dis ’n formele stelsel waardeur lewende spesies ’n naam kry wat uit twee dele (genus- en spesienaam) bestaan.

Die botaniese naam Rosmarinus officinalis vir roosmaryn is die eerste keer in 1753 gebruik. Maar Linnaeus het die noue ooreenkoms tussen roosmaryn en salie raakgesien, en besef dis net hul meeldrade wat verskil. Meer onlangse navorsing het gewys dié verskil is minder beduidend as wat voorheen gedink is, en daarom is roosmaryn se botaniese naam verander na Salvia rosmarinus.

Roosmaryn is ’n waterwys, immergroen struik van die Mediterreense streek met ’n spreidende of regop groeiwyse. Sy aromatiese blare is leeragtig en donkergroen bo-op, met ’n wit poeieragtige onderkant; en sy klein blomtrosse kan wit, pienk of blou wees. Kweek regop groeiende roosmaryn in potte en kruietuine, of snoei dit in heinings of ander vorms; gebruik spreidende roosmaryn as ’n grondbedekker.

Die staatsman en filosoof sir Thomas More (1478–1535) het geskryf: “Ek laat roosmaryn oral op my tuinmure groei, nie net omdat my bye daarvan hou nie, maar omdat dit heilig is vir herinnering en vriendskap.”