Blinkabelia (Linnaea x grandiflora sin. Abelia x grandiflora) is ’n hibried van L. chinensis en L. uniflora. Dié veelstammige struik met sy geboë takke en klein blinkgroen blare vra min onderhoud, en groei in volson en gedeeltelike skadu. Dit kan bladwisselend of semi- immergroen wees en dra trosse klein, klokvormige pienk blomme met ’n wit tint. Maar die eintlike apploustrekker is sy pragtige loof. Dis ’n betroubare informele of agtergrondstruik, skerm- of vormsnoei-plant.

Rypbestandheid en hoogte wissel. ‘Francis Mason’ het koper tot geelgroen loof, ‘Lemon & Lime’ se loof verkleur na ’n ryk goudgeel met rooierige ondertone in koue temperature, en ‘Kaleidoscope’ het helder- tot goudgeel blare met groen kerne in die somer. In die herfs verkleur dit geel en oranje, en teen die winter is dit oranje tot rooi.