Die gemmerbos (Tetradenia riparia sin. Iboza riparia) is ’n vinnig groeiende inheemse struik wat 3–5 m hoog groei, met geskulpte aromatiese blare en blompluime in ligte lila of wit. Die grootte en vorm van die blomme hang af van die plant se geslag. ’n Oorvloed manlike blomare skep meer van ’n pluim-effek as die vroulike blomme, wat in die algemeen meer kompak groei.

Die blomme verskyn gewoonlik van Junie tot Augustus, wanneer die plante kaal is, aan die boonste deel van die takke. Aangesien dié blomtyd kan saamval met ryp, is dit wys om in rypgebiede die gemmerbos op ’n warm plek teen ’n muur wat noord front, te plant. Die plant word tradisioneel gebruik om koors, hoes en hoofpyn te behandel.

Ekstra bron: pza.sanbi.org