Daar word geglo dat duisendblad (Achillea millefolium) ewige liefde simboliseer. Dié mooi meerjarige krui, wat al eeue lank bekend is vir sy helende eienskappe, is genoem na Achilles, ’n held in die Griekse mitologie, wat die loof gebruik het om oorlogswonde te behandel.

Die plant het sterk stele met varingagtige groengrys loof en plat blomkoppe in helder en pastelkleure. Dit vra goed gedreineerde grond en goeie lugsirkulasie, het min onderhoud nodig en is droogtebestand.

Duisendblad lyk lieflik in veldblom-, kothuis- en vlindertuine, lyk goed saam met ornamentele grasse en lok voordelige insekte.