Al lyk die rietagtige stele van Nandina domestica baie soos bamboes, is dit nie ’n bamboes nie; sy wortels is ook nie indringers nie.

Dié plante, wat van Japan afkomstig is, is van groot waarde in tuine danksy hul slanke, regop groeiwyse en kantagtige loof, amper soos varings. Blare is groen in die somer, met pienk nuwe groei wat in die winter verkleur tot koper skakerings en ryk rooi in koue tuine. Dit dra trosse klein wit blommetjies gevolg deur rooi bessies. Kultivars kan kompak, mediumhoog of hoog groei.

Nandinas groei in volson of halfskadu en is ideaal as ’n skerm, vir ’n smal gangetjie langs ’n huis, langs ’n waterfokuspunt, in houers of in tuine in die Japannese styl.

Pasop, alle dele is giftig – moet dit dus nie inneem nie.