’n Deklaag op die grond is een van slimste maniere om waterwys tuin te maak, en dis veral voordelig vir rose. Dit hou die grond vir langer koel – iets waarop rose baie goed reageer. Dit moedig ook mikroskopiese lewe aan wat die grond belug en voedingstowwe vrystel. ’n Deklaag verminder verdamping sodat ’n gereelde, diep natmaak meer doeltreffend is. Dit onderdruk onkruid, wat met rose meeding vir water en voedingstowwe.

Wanneer het jy ’n deklaag nodig? In die warmste maande van die jaar. Tussen Julie en middel September is dit nie nodig nie omdat die grond warmer moet raak sodat die rose uitloop.

Wat kan ’n mens gebruik? Enige growwe organiese materiaal wat water maklik sal deurlaat, soos dooie blare (net so of gemeng met grassnysels), gesnipperde bas, grondboon- of makadamiadoppe, fyngedrukte perskepitte, dennenaalde of strooi. Moenie grassnysels net so gebruik nie, want dit kan ’n digte mat vorm wat nie water deurlaat nie. Swart skadunet, ou koerante, goiing of karton werk ook.

Laaggroeiende grondbedekkers is ’n lewende deklaag. Maak net seker dit het nie ’n spreidende wortelstelsel nie, want dit sal met die roos meeding om kos en water. Geskikte plante sluit in Ajuga, Alyssum, Echeveria, Mazus, viooltjes, somersneeu, lammetjie-oor, mondogras en ysterkruid.

Onthou ...

  • Moenie die deklaag teenaan die rose se stamme ophoop nie. Hou ’n ruimte rondom oop waar water en kunsmis na die grond kan deurdring.
  • Moenie die deklaag te dik maak nie, anders sal water nie deurdring nie – 2–3 cm is dik genoeg.
  • Vul ’n organiese deklaag gereeld aan omdat dit vinnig ontbind en erdwurms dit dieper die grond in versprei.

Besoek ludwigsroses.co.za en stuur vrae na tuine@tuis.co.za.