‘Avril Elizabeth Home’

Vraag: Ek het pas ’n paar ‘Avril Elizabeth Home’-rose geplant en wil hulle graag ’n goeie hupstoot gee. Ek het gelees dat 15 mm reën gelykstaande is aan een goeie natmaak – is dit waar?

Antwoord: As jy 15 mm water (reën of oorhoofse besproeiing) in ’n reënmeter meet, is dit gelyk-staande aan 15 liter water oor een vierkante meter. Dit beteken elke roosstruik kry sowat 10 liter water. Onthou, as jy water direk rondom ’n roos se wortels gee, sal minder water weens wind of verdamping verlore gaan.

‘Lemonessence’

Vraag: Ek kom agter die kewers kuier net op ’n paar van my rose, soos ‘Lemonessence’, maar ignoreer die ander blomme. Hoekom is dit so en wat kan ek daaromtrent doen?

Antwoord: Daar word vermoed dat kewers geel blomme verkies. Dit mag so wees, maar dis die spesifieke geur wat hulle lok. Kewers kan ’n geur kilometers ver ruik en dit gou opspoor. As jy nie wil spuit nie, kan jy water in ’n emmertjie gooi en ’n bietjie olie daarin gooi, wat bo-op sal dryf. Stap tussen jou rose deur en hou die emmer onder ’n aangetaste blom; skud die blom sodat al die kewers in die water val. Die olie sal die kewers onder die wateroppervlak hou sodat hulle versuip. As jy jou rose met Ludwig’s Insect Spray spuit net wanneer die blomme begin oopgaan, sal die knoffelreuk die blomme se geur verbloem.

Roostake vir elke streek in November

Somerreënstreek

Maak steeds twee keer ’n week nat en bemes met Vigorosa. Groot kewers kan in toom gehou word met ’n dubbele dosis Cyper of Plant Care. Vir kleiner insekte (blaaspootjies, plantluise, bolwurm) kan jy twee keer ’n maand spuit met Ludwig’s Insect Spray. Sny dooie blomme af om nuwe groei aan te moedig.

Winterreënstreek

As die reën opgehou het, maak een keer ’n week goed nat (gryswater sal ook werk). As die reënweer aanhou, spuit elke twee weke met ’n mengsel van Chronos, Ludwig’s Insect Spray en ’n kleefmiddel soos Picanta teen swartvlek en donsskimmel. Bemes in die middel van die maand met Vigorosa. Knyp die punte van nuwe basale lote af om dit meer bestand teen sterk wind te maak.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Maak seker beddings het ’n goeie deklaag (2–5 cm diep) en maak twee keer ’n week nat. Bemes met Vigorosa. Hou plae en swamsiektes in bedwang met die bogenoemde mengsel. Knyp gereeld dooie blomkoppe af om dit netjies te hou en nuwe lote aan te moedig