Vraag: Ek het ’n boog tussen twee dele van my tuin ingesit en wil graag ’n rankroos daaroor lei. Watter variëteite stel jy voor?

Antwoord: Ek raai mense altyd aan om variëteite te kies wat oorvloedig en herhalend blom en, die belangrikste van als, genoeg groeikrag het om die hoogte en breedte van die boog toe te groei. Midinette-rose of miniatuur-rankers is ideaal vir ’n boog van 2 m hoog en breed, of kies een van die groot blommende variëteite soos ‘Blossom Time’, ‘Edgar Degas’, ‘Royal Gold’ en ‘Don Juan’. Vir ’n hoër, breër boog kan jy ‘Compassion’, ‘Crème Caramel’, ‘Pink Cloud’, ‘Iceberg’, ‘Cherry Garland’, ‘Nahema’ en ‘Gülilah’ oorweeg.

Vraag: Ek het ’n deklaag om my nuutgeplante ‘Free and Loyal’-rose gegooi, maar dit lyk of die stele gebrand het. Dis nie die resultaat wat ek verwag het nie. Wat het skeefgeloop?

Antwoord: As ’n deklaag van vars organiese materiaal te hoog teen die jong stele gepak word, raak dit warm en maak dit die weefsel onder die bas dood. Wanneer jy ’n deklaag strooi, maak seker jy gooi dit nie tot teen die stele nie. Dit kan ook wees dat die roos te diep geplant is. Maak seker die plant is ewe diep in die grond as wat dit in sy houer was.

Roostake vir elke streek in Desember

Somerreënstreek

Maak twee keer ’n week goed nat, spuit elke twee weke met ’n mengsel van Chronos en Ludwig’s Insect Spray teen swartvlek en plae. Haal groot kewers met die hand af en versuip hulle in ’n emmer water. Bemes met Vigorosa. As jy weggaan met vakansie, knyp al die knoppe af wat waarskynlik gaan blom wanneer jy weg is; só neem die roos minder water op.

Winterreënstreek

Strooi deklae, en as dit baie warm is, maak twee of drie keer ’n week vroegoggend nat om die rose koel te hou. Maak om die beurt nat met boorgat- of gryswater en munisipale water. Spuit met ’n mengsel van Ludwig’s Insect Spray en Chronos of wissel dit af met Rose Protector (ook ’n mengsel) teen plae en siektes. Deurdrenk die onderkant van blare met ’n dubbeldosis Ludwig’s Insect Spray teen rooispinnekop. Bemes aan die einde van die maand met Vigorosa en maak agterna goed nat.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Maak minstens twee keer ’n week nat en bemes aan die einde van die maand. Hou aan om dooie blomme af te sny ten einde nuwe stele aan te moedig. Spuit met ’n mengsel van Ludwig’s Insect Spray, Chronos en Picanta (’n kleefmiddel) teen siektes en plae. Roei groot kewers uit deur met Plant Care te spuit of versuip hulle in ’n emmer water.