Vraag: My ‘Belle Époque’-rose staan al meer as 10 jaar in die tuin en ek merk op die grond is nie meer so vrugbaar nie. Dit kompakteer maklik en die rose vaar nie so goed nie.

Antwoord: In tuine waar die rose meer as 10 jaar oud is, kan dit wees dat die grond “moeg raak” vir die rose. Ons stel voor jy grawe die roos uit, sit ’n kartonboks in die gat, vul dit met nuwe grond en kompos en herplant die roos (of plant ’n nuwe roos).

Vraag: Ek kweek al my rose in potte. Ek is op soek na ’n pienke wat mooi snyblomme dra. Help!

Antwoord: Die beste rose vir ’n pot het ’n lae tot mediumhoë, bosagtige groeiwyse. Vir blomme met ’n mooi vorm en wat lank in ’n vaas sal hou, kies hibriedtee variëteite wat enkelblomme op reguit stele dra. Oorweeg dié vyf voorbeelde:

  • ‘New Zealand’ – laaggroeiend, baie geurig, met groot, treffende sagpienk gepunte blomme;
  • ‘Andrea Stelzer’ – ’n hoë groeier met lang stele en blomme van skougehalte;
  • ‘Garden Princess’ – ’n delikate pienk en geurige, siektebestande roos;
  • ‘Heart Throb’ – geurige blomme in ’n ligte salmkleur met ’n tikkie koraalpienk;
  • ‘Shaleen Surtie-Richards’ – warm koraalpienk blomme met ’n swaar geur.

Roostake vir elke streek dié maand

Somerreënstreek

Swaarder dou kan swartvlek aanmoedig, wat tot blaarverlies kan lei. Spuit een keer ’n maand met Chronos of Rose Protector. As jy Chronos met Ludwig’s Insect Spray meng, bied dit ook beskerming teen plantluise, rooispinnekop en blaaspootjie. Jy kan nog dié maand met Vigorosa bemes om blomvorming aan te moedig en dormansie tot Junie uit te stel. Maak geleidelik minder nat tot net een keer per week.

Winterreënstreek

Wanneer dit begin reën, spuit met Chronos of Rose Protector teen swartvlek, donsskimmel en roes. Bemes met Vigorosa indien dit genoeg gereën het of ander water beskikbaar is; dit sal die rose nog tot Julie laat blom. As dit nie reën nie, maak een keer ’n week nat met gryswater. Maak seker beddings het goeie deklae. Spuit elke twee weke met Ludwig’s Insect Spray teen plantluise, blaaspootjie en rooispinnekop.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Maak minstens een keer per week nat en bemes met Vigorosa – maak agterna goed nat. Dit sal die blomtydperk tot in die winter verleng. Hou blaaspootjie onder beheer met Ludwig’s Insect Spray of kies Plant Care of Garden Ripcord as dit ’n kwaai infestasie is.