Vraag: Dui die hoogte van ’n roosstruik aan hoe diep die wortels strek? Of is die twee onverwant?

Antwoord: Die hoogte van ’n roos hang meestal af van steel-op-steelgroei en nie ’n enkele stam soos by sekere bome nie. Maar dis die aantal blare van die struik (hoe meer blare, hoe groter die oppervlakte vir fotosintese) wat die verspreiding van die wortels bepaal. Die grondgehalte maak natuurlik ook ’n verskil.

Ek sê altyd: Gebruik die spuitpomp pleks van die snoeiskêr. As jy spuit teen voorkombare siektes soos swartvlek en insekte soos rooi-spinnekop wat die struik ontblaar, behou jy gesonde blare wat skadu oor die wortels verskaf en meer voedingstowwe doeltreffender omskakel in kos vir die wortels. As jy liewer nie wil spuit nie, kies siektebestande Eco-Chic-rose soos ‘South Africa’, ‘Mushe Kirsh’, ‘Turning Point’, ‘Graceful Gisela’ of ‘Simply Samantha’.

Vraag: My ‘Mr Lincoln’-roos het ’n wit poeierige stof op die nuwe blare, wat ook omkrul. Wat kan die probleem wees?

Dis waarskynlik poeiermeeldou. Rose wat in ’n winderige of skaduryke plek, of in baie droë grond geplant is, word die maklikste aangetas. Sekere variëteite is ook meer geneig daartoe as ander. Poeiermeeldou affekteer die groeikrag van ’n roos. Meng ’n eetlepel koeksoda met Chronos in 5 liter water en spuit die blare daarmee. ’n Goeie diep natmaak twee tot drie keer ’n week kan ook help. As skadu ’n probleem is, snoei struik- of boomtakke om meer son deur te laat.

Roostake vir elke streek in Oktober

Somerreënstreek

Maak twee keer ’n week goed nat en bedek beddings met ’n 5 cm-deklaag. Voorkom skade weens insekte deur elke twee weke te spuit met organiese Ludwig’s Insect Spray. Bemes aan die einde van die maand met Vigorosa om rose vir die volgende vlaag voor te berei. Sny dooie blomkoppe af. Moenie meer as die helfte van die blomme op ’n slag pluk nie, anders plaas jy die wortels onder druk.

Winterreënstreek

Die hooftaak is om te keer dat nuwe blare aangetas word deur swamsiektes soos donsskimmel. Spuit elke twee weke met Chronos gemeng met Ludwig’s Insect Spray of Rose Protector. Bemes in die middel van die maand met Vigorosa. Maak twee keer ’n week goed nat as daar nie genoeg reën val nie.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Waar hoë humiditeit en mis voorkom, spuit elke twee weke met Chronos gemeng met Ludwig’s Insect Spray of Rose Protector om nuwe groei teen swam- siektes te beskerm. Maak twee keer ’n week goed nat en hou die grond koel en klam met ’n 5 cm-deklaag. Voed middel Oktober met Vigorosa om die volgende blomvlaag voor te berei.