rose-droogte-main

Die rooskenner Ludwig Taschner gee wenke vir hoe om droogte te hanteer.

Somerreënstreke: Moenie somersnoei of terugsnoei in areas met ernstige waterbeperkings nie. Gebruik gryswater en gooi ’n deklaag om vog in die grond te behou. Spuit Ludwig’s Insect Spray om rooispinnekop en ander plae te beheer. As daar genoeg reën val, kan jy somersnoei, twee tot drie keer per week goed natmaak, met Vigorosa en Chronos of Rose Protector bemes en Ludwig’s Insect Spray spuit teen swartvlek en plae.

Kaapse kusstreke: Maak in droogtegeteisterde areas net soos in somerreënstreke. Indien jy genoeg water het, kan jy somersnoei, met Vigorosa bemes, drie keer per week natmaak en met Ludwig’s Insect Spray spuit teen plae soos rooispinnekop.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus: Indien jy nie mag natmaak nie, sal rose se blare hard en dik word en effens begin hang, alles om verdamping te verhoed. Wanneer jy snoei of ou blomknoppe afsny, is dit ’n teken aan die plant om uit te loop – en daarvoor het hy water nodig. Moet dus nie nou aan jou rose sny nie! As daar genoeg reën val, bemes met Vigorosa en spuit Chronos of Rose Protector teen swamsiektes en Ludwig’s Insect Spray teen blaaspootjie.