Rose met stamina

Met droogtetoestande wat verskeie dele van die land, veral die Wes- en Oos-Kaap, op verskillende tye van die jaar teister, moes rose hulle by dié geharde toestande aanpas. Die nuwe 'Fordyce'-roos, genoem na die ultramarathonkampioen Bruce Fordyce, is die eerste van ’n nuwe kategorie stamina-rose. Dié rose het ’n sterk basis-raamwerk wat bestaan uit semi-spreidende stele en leeragtige, siektebestande blare. Die 'Fordyce'-roos groei tot skouer-hoogte, het ’n ligte geur en dra roomwit blomme met pienkgetinte rande.


‘Smell Me’

Vraag: Ek beplan om my geurige ‘Smell Me’-rose te skuif, maar ek sal hulle nie dadelik op die nuwe plek kan plant nie. Hoe hou ek die plante aan die lewe?

Antwoord: Hou die rose koel en klam onder nat sakke in die garage of in ’n skadukol. Jy kan ook ’n sloot gawe, verkieslik in die skadu, die plante langs mekaar daarin sit en toemaak met die grond wat jy uitgegrawe het. Deurdrenk die grond sodat dit styf rondom die wortels saampak en geen lugborrels vorm wat die wortels kan laat uitdroog nie. Plante wat jy só klam hou, kan vir twee tot drie weke oorleef.

Vraag: Ek het verlede jaar ’n paar van my rose geskuif en party het dit nie oorleef nie; wat het ek verkeerd gedoen?

Antwoord: Voor jy oorplant, moet jy die roos met ’n derde of selfs die helfte terugsnoei. Dit verminder die spanning op die wortels wanneer die plant hom weer moet vestig. Moenie die struik uittrek nie; spit liewer die wortels netjies af met ’n graaf. Druk die graaf in ’n sirkel rondom die struik in, sowat 20 cm van die steel af; wanneer die grond losgewikkel is en al die wortels afgesny is, kan jy die roos versigtig uithaal. Maak seker die okuleerlas is net onder die grond wanneer jy dit weer plant. Druk die grond rondom die roos vas en maak goed nat. Gee dan weekliks water tot jy kan sien die roos is gevestig.

Roostake vir elke streek

Somerreënstreek

Maak nou net een keer per week of elke twee weke nat. Nou is die beste oorplanttyd vir rose; berei die nuwe posisie voor voordat jy die roos uithaal. Dis nie nodig om die oorgeplante roos te spuit of bemes nie. Plant winterblommende jaarplante as omranding vir jou bedding, of papawers tussen jou rose vir kleur nadat jy gesnoei het.

Winterreënstreek

Spuit rose met Chronos of Rose Protector teen swartvlek en ander swamsiektes. Ook in dié streek is dit nou die beste tyd om rose oor te plant. As daar genoeg reën val, is dit nie nodig vir natmaak nie; gee gryswater as dit nie genoeg reën nie.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Maak nou net een keer per week nat. Spuit elke twee weke met Chronos of Rose Protector (teen swartvlek) en Ludwig’s Insect Spray (teen onder meer plantluise) en bemes een keer per maand met Vigorosa