‘Black Madonna’

Selene Smith van Pietermaritzburg skryf Elke keer dat daar ’n knop op my ‘Black Madonna’­rose vorm, verskyn kewers of insekte uit die bloute en suig die voedingstowwe uit; dan gaan daardie knop dood. Ek het al talle spuitmiddels en selfs diatomeëaarde (DE) probeer, maar niks werk nie. Wat stel julle voor?

Ludwig antwoord Dit kan ’n stinkbesie wees wat die probleem veroorsaak of ’n verwelkbesie wat onder die knop aan die bloeisteel suig terwyl dit nog sag is. Party insekte verkies spesifieke variëteite om aan te smul. Ek sou dink dat dit kan werk as jy die grond rondom die roos met Koinor deurdrenk. Koinor is vier tot vyf maande lank doeltreffend, so hou dop ingeval dit terugkom, maar hopelik het hulle dan al aanbeweeg.

‘Blue Bayou’

Natasha Wright van die Strand skryf My grond is baie hard en my ‘Blue Bayou’­ rose sukkel om te groei. Ek het al gehoor van ’n “grondversterker” – wat is dit?

Ludwig antwoord Klei- of turfgrond baat die beste by materiaal wat dit op lang termyn belug, soos grondboontjiedoppe, fyn appelkoos-pitte, grofgemaalde dennebas, selfs as en klippies gemeng met kompos en ’n bietjie mis vir voeding. Sanderige grond vra weerwaterhoudende materiaal soos veenmos, klappervesels, selfs ’n bietjie kleigrond en waterhoudende jel. Werk kompos en mis in om vrugbaarheid te verbeter. Rose gee nie om vir klipperige grond nie, solank die klippe kleiner as vuisgrootte is. Bemesting, soos die stadig vrystellende Vigolonger of Vigorosa, word as voeding beskou en jy kan dit byvoeg wanneer jy jou gekose versterkende bymiddel by die grond inmeng.

KONTAK ludwigsroses.co.za

Roostake vir elke streek in November

Somerreënstreek 

Rose maak nou gereed vir hul tweede blomvlaag, so bemes middel November met Vigorosa en maak twee keer ’n week diep nat indien dit nie reën nie. Spuit twee keer ’n maand met ’n mengsel van Chronos en Ludwig’s Insect Spray teen plae. As groot blomvretende kewers verskyn, spuit met ’n dubbeldosis Cypher of Plant Care.

Winterreënstreek 

Maak minstens een keer ’n week goed nat – meer as jy genoeg water het. Bemes met Vigorosa en knyp hibried­ teerose se knoppe af vir groter blomme. Knyp die punte van basale lote af om dit teen windskade te beskerm. Sou daar laat reëns val, spuit met Chronos of Rose Protector teen swartvlek en donsskimmel.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus 

Bemes middel November met Vigorosa om die voedingstowwe wat in die eerste blomvlaag opgebruik is, te vervang. Maak agterna goed nat, en maak twee keer ’n week goed nat as dit nie reën nie. Strooi vars deklae indien nodig. Spuit met ’n mengsel van Chronos en Ludwig’s Insect Spray teen swamsiektes en plae. Snoei dooie blomkoppe af om nuwe stele aan te moedig om uit te loop.