Vraag: Ek het in Desember tien ‘Tawny Profusion’-struike gekoop en is regtig in my skik met hul vertoning. Ek het gehoor dat ek die dooie blomknoppe moet aanlos, maar wil liewer hê dit moet in oorvloed blom!

Antwoord: Wanneer jou rose minder water kry weens waterbeperkings, moet jy maar die blomknoppe aanlos sodat daar soveel blare moontlik op die struik bly. Gelukkig sal ‘Tawny Profusion’ net aanhou blom, of jy dooie blomknoppe afbreek of nie. As die blomblare afval of hul kleur verflou, sny die blom en boonste twee blare af. 

Vraag: My geurige ‘Bella di Todi’-roos het ’n verstommende aantal perfekte blomme gedra, maar ons het skielik ’n probleem ontwikkel met kewers – hulle het binne ’n week die blomme afgemaai! Tog het hulle my ander geurige rose (‘Double Delight’, ‘Just Joey’ en ‘Sharifa’) geïgnoreer. Wat kan ek spuit?

Antwoord: Daar is ’n paar sterk insekdoders soos Karbaspray, Garden Ripcord en Cypermethrin beskikbaar. As jy dit teen dubbelsterkte gebruik en op die kewers spuit wanneer hulle aktief is, sal jy so te sê dadelik van hulle ontslae raak (jy hoef nie die hele struik te spuit nie). Die kewers het jou ‘Bella di Todi’-rose geteiken omdat die spesifieke geur hulle lok, nie die blomme se kleure nie. 

Roostake vir elke streek dié maand 

Somerreënstreek

Maak een keer per week goed nat en bemes met Vigorosa om voeding- stowwe te vervang, veral as dit laas maand goed gereën het. Spuit gedurende koel en nat weer met Chronos (teen swartvlek) gemeng met Ludwig’s Insect Spray (teen plantluise, blaaspootjie en klein kewers). Rose Protector is ’n uitstekende alternatiewe opsie, maar kan nie meer as een keer per maand gebruik word nie.

Winterreënstreek

In droë dele kan jy gryswater gebruik, of gee elke roos 10 liter water een keer per week. Moenie bemes, kompos inwerk of dooie blomme afknyp nie. As jy kan natmaak, doen dit liewer minder gereeld, maar dieper vir 40–60 minute. Strooi ’n deklaag en spuit twee keer per maand met Ludwig’s Insect Spray teen rooispinmyt en ander plae.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

As donsskimmel ’n probleem is, spuit met Chronos, wat dit in ’n mate beheer. Indien jou rose te dig of te hoog groei, dun die struike uit en snoei stele korter sodat daar plek is vir nuwes om uit te loop en deur die winter te blom. Bemes met Vigorosa en maak agterna goed nat.