V: Ek woon in Durban en iets lig die grond op in my bedding met ‘St Andrews’-floribundarose. Ek dink daar is ook termiete, want ek het ’n roos opgegrawe wat uitgedroog het, en opgelet sy stam was gevreet.
A; Die Durban-streek is bekend vir termiete en hulle kou graag aan die bas van die wortelstok. Die beweging in die grond is waarskynlik mol-aktiwiteit. Jy kan albei uit die weg ruim as jy die grond rondom die rose deurdrenk met Ludwig’s Insect Spray gemeng met Plant Care. Steek met ’n vurk gate van sowat 25–30cm diep in die grond rondom elke roosboom. Moenie omspit nie. Voeg 100ml Insect Spray en 10ml Plant Care by 10 liter water in ’n emmer. Roer, en skep dan 1 liter op ’n slag uit met ’n beker (2 liter vir groter plante) en gooi dit in die gate wat jy gemaak het. Die olie en die knoffelreuk hou molle weg. Vir die termiete sal jy dié behandeling dalk elke drie maande moet herhaal.

‘Granada’

V: Ek sukkel verskriklik om ontslae te raak van plantluise op my ‘Granada’-rose. Wat sal help?
A: Deurdrenk die grond rondom elke roos met Koinor. Meng eenvoudig 20ml Koinor in 10 liter water en giet dan 1 liter van dié mengsel om elke struik. Die wortels neem die Koinor op en dit sal die roos vir 6–8 maande teen klein insekte beskerm.

Vakansiesorg vir rose

Dis altyd swaar om jou rose agter te laat wanneer jy weggaan! Want wie wil nou ná ’n ontspanne vakansie begroet word deur rose wat ongelukkig lyk weens ’n gebrek aan water, of blare verloor het weens swartvlek! Volg dié wenke en jou rose sal skaars agterkom dat jy weg is:

  • Vingersnoei elke jong, sagte loot voor jy weggaan (knyp die eindknop uit); dit sal dan minder water nodig hê. Die roos sal eers ná twee tot drie weke weer vinnig begin groei en meer water nodig hê, maar teen daaardie tyd is jy al terug. En die uitgestelde blomtyd beteken jy sal die skouspel kan geniet.
  • Spuit die dag voor jy weggaan met Chronos (teen swartvlek) gemeng met Ludwig’s Insect Spray. Dié mengsel behoort twee weke te hou en sal swartvlek en selfs ’n ligte infestasie van rooispinnekop kan voorkom.
  • Gaan die onderkant van blare na vir rooispinnekop en as jy vermoed daar is ’n infestasie, spuit met Ludwig’s Insect Spray of Naturen Rape Oil. As jy al die onderste blare se onderkante natmaak, behoort dié een toediening vir tyd en wyl genoeg te wees.
  • As jy ’n outomatiese besproeiing-stelsel het, maak seker al die spuitkoppe werk en dat die tydreëling reg ingestel is.
  • Rose in potte moet elke dag water kry, maar as jy weet dit gaan nie gebeur nie, sit die potte in diep pierings sodat dit genoeg water vir ’n ekstra paar dae het.
  • Jy kan ook waterabsorberende jel by die grond voeg; dit hou die water langer in die potgrond. As jy kan, installeer ’n outomatiese drup-besproeiingstelsel vir jou potte.
  • Strooi ’n vars deklaag rondom die rose; dit sal water in die grond help behou en die wortels koel hou, al droog die grond uit.

Take vir elke streek

Somerreënstreek

Maak minstens twee keer per week goed nat as dit nie reën nie. Spuit elke twee weke met Ludwig’s Insect Spray om ligte infestasies van rooispinnekop, blaaspootjie en plantluise te voorkom. In reënweer kan jy Chronos by die Insect Spray voeg om swartvlek te keer. Haal kewers met die hand af of spuit met Plant Care. Bemes in die middel van Desember met Vigorosa as jy nie weggaan nie.

Kaapse kusstreek

Maak nou 2–3 keer per week nat in warm en droë weer; gebruik gryswater waar waterbeperkings geld. Moenie rose bemes as dit warm en droog is nie. Behandel rooispinnekop deur die onderkant van die blare met Milbeknock te deurdrenk. Spuit Kemprin of Cypermethrin teen alle soorte kewers met ’n harde dop, soos die CMR-kewer, vrugtekewers en die bruin Kersfees-kewer wat op die blare sit.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Maak drie keer per week goed nat, tensy daar goeie reën val. Spuit met Chronos en Ludwig’s Insect Spray teen swartvlek en om plae soos blaaspootjie, plantluise en bolwurm te beheer. Bemes in die middel van Desember met Vigorosa. Hou in al die streke aan om dooie knoppe af te breek en maak so seker jou rose is op hul mooiste oor die feestyd