‘Graaff-Reinet’

Vraag: Verlede jaar het heelparty van die nuwe lote op my ‘Graaff-Reinet’-rose klein, opgekrulde blare gedra. Die enkele blomme wat wel oopgemaak het, was ook misvorm. Ek het gespuit, maar niks lyk of dit werk nie. Is die oorsaak ’n insek of ’n virus?

Antwoord: Jou roos is aangetas deur die blaaspootjie, wat landwyd ’n ernstige probleem geword het. Die piepklein larwes kruip onder die blare weg waar dit moeilik is om hulle te bereik wanneer jy gewoonweg spuit. Die doeltreffendste oplossing is om Koinor, ’n langdurige grond-deurweekmiddel, toe te dien. Augustus is die beste tyd om dit te doen en dit behoort sowat ses maande te werk voor jy die behandeling hoef te herhaal. Volg die doseer-aanwysings op die pamflet.

‘Artista Panarosa’

Vraag: Ek het ’n groot ‘Artista Panarosa’-struikroos wat net aan die punte van die stele blom. Ek het dit nog nie gesnoei nie, want ek weet nie wat om daarmee te doen nie. Watter raad het jy vir my?

Antwoord: Dié variëteit reageer goed op ’n snoei of goeie wegsny en blom agterna mooi. As alternatief kan jy probeer om die roos te “buig”; dit sal ’n fokuspunt van die roos maak en aanmoedig om al langs die steel te blom. Só maak jy: Kap penne in die grond reg rondom die struik en maak die punt van elke lang loot aan ’n pen vas. Die lote sal dan meer horisontaal groei pleks van boontoe; dit sal al die ogies langs die steel aktiveer, wat dan in nuwe blomlote sal ontwikkel.

Roostake vir elke streek dié maand

Somerreënstreek

As jy nog nie gesnoei het nie, is daar nou nog tyd. Maak seker jou hoogstamrose is nie te styf vasgebind nie. Maak een keer ’n week nat, maar strooi eers ’n deklaag wanneer die grond warmer is. Deurdrenk met Koinor vir langtermyn-insekbestryding.

Winterreënstreek

As water skaars is, snoei eers middel Augustus. Sodra jy snoei, soek die rose water by hul wortels. Augustus is ’n goeie tyd om rankrose te snoei, op te lei en weer vas te maak – verwyder ook ou, dooie stele. As jy vroeg gesnoei het en die rose loop uit, spuit Chronos gemeng met Ludwig’s Insect Spray of Rose Protector teen donsskimmel en swartvlek. Deurdrenk die grond met Koinor vir langtermyn-insekbestryding. Maak seker hoogstamrose in winderige streke is stewig vasgemaak.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Rose moet nou mooi uitloop en groei. Maak een keer ’n week nat en bemes met Vigorosa of die stadigvrystellende Vigolonger. Sou die weer warm en bedompig wees, beskerm rose met Chronos of Rose Protector teen donsskimmel en swartvlek. Vir langtermyn-plaagbestryding, deurdrenk die grond rondom elke roos met Koinor. Strooi ’n deklaag oor roosbeddings