Vraag: Ek snoei my ‘Arianna’-roos vir die eerste keer en is onseker hoe ek die stele moet sny. Moet ek ’n skuins snit maak, en moet die ogie binnetoe of buitentoe wys?
Antwoord: Vroeër jare is tuiniers aangeraai om ’n skuins snit net bo die ogie te maak sodat water maklik van die wond sal afloop. Maar in ons klimaat is staande water op ’n wond nie ’n probleem nie en ’n skuins snit kan probleme veroorsaak. ’n Reguit snit, heelwat hoër as die ogie, is makliker. Dit stel minder van die wond aan die elemente bloot en dit laat die ogie toe om nuwe stele uit te stoot. Dis ook nie nodig om jou daaroor te bekommer of die ogie buitentoe of binnetoe wys nie. Ons verwag dat minstens die boonste drie ogies sal uitloop en het al agtergekom die roos besluit self hoe hy wil groei. Dit loop gewoonlik uit by ’n ogie wat na binne wys omdat die sapvloei daar die sterkste is.
Roostake vir elke streek
Somerreënstreek
Snoei tussen 10 Julie en die eerste week van Augustus. Wag in baie koue gebiede (soos die Oos-Vrystaat) tot middel of einde Augustus. Nadat jy gesnoei het, moet jy nuwe kompos inwerk en bemes met Vigorosa of Vigolonger. Plant rose uit indien nodig. Maak een keer per week nat.
Winterreënstreek
Snoei tussen 20 Julie en die eerste week van Augustus. As jou rose nog nie dormant is nie, wag eers voor jy snoei en hou heeltemal op met natmaak. Dit sal dormansie afdwing en dan kan jy met ’n geruste hart snoei. Vernuwe die grond met kompos nadat jy gesnoei het en voed met Vigorosa of Vigolonger.
Laeveld en KwaZulu-Natalse kus
Jy kan gewoonweg snoei in Julie. Rose in dié streke kan wel groei en blom in die winter as jy gereeld bemes, spuit en natmaak. In dié geval kan jy die struike in September snoei en afrond. Maak een keer per week nat, bemes met Vigorosa en spuit met Ludwig’s Insect Spray teen plantluise, blaaspootjies en bolwurm. Plant rose uit indien nodig.
Woon ’n gratis wintersnoei-demonstrasie met Ludwig by:
- 23 Junie (14:00) en 24 Junie (10:30): Ludwig’s Star Roses, Assagay, KZN
- 30 Junie en 1 Julie (10:30): Ludwig’s Rose Farm, noord van Pretoria
- 1 Julie (14:00): Ludwig’s Roses Pretoria-Oos, Lynnwoodweg
- 7 en 8 Julie (10:30): Ludwig’s Roses Egoli, Glenferness, Midrand
- 14 Julie (10:00) en 15 Julie (10:30): Ludwig’s Roses Winelands, Stellenbosch
- 14 Julie (14:00): Ludwig’s Roses Cape Town, Constantia
- 21 Julie (10:00): Ludwig’s Roses Big Red Barn, tussen Irene en Clayville
Dis nie nodig om te bespreek nie; vir nog inligting, besoek ludwigsroses.co.za.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET