‘Tourmaline’

Joe van Zyl van Ficksburg skryf: Ek kon vanjaar nie my ‘Tourmaline’-hibriedteerose in Julie snoei nie. Is Augustus te laat?

Ludwig antwoord: In uiters koue streke soos die Oos-Vrystaat en Drakensberge is dit beter om rose gedurende die tweede helfte van Augustus te snoei. ’n Laat snoei is buitendien beter as geen snoei nie. Onthou net, hoe later jy snoei, hoe later blom die rose.

‘Artista Panarosa’

Lauren Smit van Pretoria skryf: Ek het laas jaar ‘Artista Panarosa’-rankrose geplant om ’n prieel toe te groei. Hoe moet ek dit snoei?

Ludwig antwoord: Dit hang af van hoeveel die rose gegroei het. Jy kan die ouer lote uitsny, asook enige sylote wat onnet groei. Maak die langer, geboë stele aan die struktuur vas vir ’n netjiese voorkoms. Dié variëteit is taamlik taai en sal goed in Oktober blom en aanhou blom.

KONTAK ludwigsroses.co.za

Roostake vir elke streek in Augustus

Somerreënstreek

Kikker die grond rondom rose op met kompos en kunsmis. Maak nou twee keer ’n week nat. Gaan die bindstroke by hoogstamrose na; dit moenie te styf wees of in die stele insny nie, want dit kan die roos verwurg. Deurdrenk die grond rondom elke roos met Koinor teen plae wat nuwe blare en knoppe beskadig. As die rose nie in Julie met Vigorosa bemes is nie, doen dit nou, anders kan jy tot die einde van die maand wag.

Winterreënstreek

Rose wat nie in Julie bemes is nie, moet so gou moontlik met Vigorosa gevoed word. Sodra nuwe groei te voorskyn kom, beskerm dit teen swamsiektes deur elke twee weke met Chronos te spuit. Deurdrenk die grond rondom elke roos met Koinor teen plae wat nuwe blare en knoppe beskadig.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Beskerm nuwe groei teen swamsiektes deur elke twee weke met Chronos te spuit. Deurdrenk die grond rondom elke roos met Koinor om dit vir ses maande teen blaaspootjie en ander insekte te beskerm. Maak nou twee keer ’n maand nat en strooi deklae.

Stuur inligting en vrae na tuine@tuis.co.za.