Klop die hitte

Geraldine van Wyk van Bloemfontein skryf My ‘Thuli Madonsela’-rose kry swaar in die hitte, al maak ek gereeld nat. Hoe kan ek verseker hulle lyk altyd vars? 

Ludwig antwoord Net soos mense hou rose van ’n koel stort wanneer dit baie warm word. Sit die sproeier op die warmste deel van die dag sowat 10 minute lank aan of spuit liggies met die tuinslang. Dit koel die plante en hul onmiddellike omgewing af. Rose gee nie om dat hul blare nat word nie en in warm weer word dit so gou droog dat daar geen gevaar van swamsiektes is nie. Gedurende die warm maande en wanneer dit nie reën nie het die plant 15 tot 20 liter water per week nodig (gryswater is in orde). Maak ook seker die water bereik die struike se wortels. Indien die grond verdig is, druk ’n vurk in die grond rondom die struik en wikkel dit tot die grond sowat 30 cm diep losser raak. Dit kan ook help om kompos liggies by die bogrond in te werk; maak daarna goed nat. 

KONTAK ludwigsroses.co.za