‘Vrouefederasie Roos’

V: Wanneer is die beste tyd om my ‘Vrouefederasie Roos’-bome te spuit?
A: Ek stel voor jy spuit soggens of laat in die middag, dan het die oplossing meer tyd om die blare binne te dring voor dit droog word. Dis altyd goed om gereeld voorkomend te spuit, pleks van net wanneer die roos las het van plae of siektes.

V: Vir die afgelope 10 jaar het ek rose in potte gekweek. Twee jaar terug het ek om veiligheidsredes vloedligte laat installeer, wat beteken die rose is van skemer tot dagbreek in lig gehul. Ek let op hulle dra minder loof en blomme. Wat kan ek doen?
A: Aangesien jou rose nou 24 uur per dag “werk”, kort hulle dalk meer voeding en water. Ná 10 jaar raak die grond baie gekompakteer en kry die wortels nie genoeg lug nie. Ek stel voor jy haal die plante in Julie uit en plant hulle oor in nuwe potgrond. Anders kan jy die helfte van die grond in elke pot uithaal en met ’n besemstok verskeie gate tot teen die bodem in die potgrond maak. Vul dan dié gate met kompos en maak goed nat sodat die kompos die water absorbeer.

Rose vir potte

Rose lyk pragtig in potte as dit reg voorberei en versorg word. Hier’s ’n paar wenke:

  • Rose kan ses tot agt jaar in ’n houer bly, mits dit die regte grootte is; hoe groter die pot, hoe beter. Gebruik ’n houer van 10 liter vir een miniatuurroos, ’n houer van 20 liter vir twee miniatuurrose, miniatuur-rankrose of ’n middelslag-struikroos, en een van 40–50 liter vir twee of meer rose saam.
  • Die beste groeimedium is ’n mengsel van kommersiële potgrond, kompos en organiese materiaal soos grondboondoppe. Ludwig’s Roses het ’n potgrondmengsel vir rose wat by alle takke beskikbaar is; dit bevat Vigolonger, ’n bemesting met beheerde vrystelling.
  • Maak die houer driekwart vol met potgrond. Sit die roos, nog in sy plastieksak, in die pot om die hoogte te toets. Die finale vlak van die grond moet sowat 5 cm bo die houer se rand wees, en uiteindelik net so hoog teen die plant se stam wees as wat die grond in die sak was. Die rede hiervoor is dat alle soorte potgrond gou insak sodra dit natgemaak word, sodat die roos kort voor lank te diep in die pot kan staan. Anders kan jy die houer met die potgrond vul, ’n paar dae lank goed natmaak en dan die roos plant.
  • Sodra die grondvlak reg is, kan jy die roos uit sy plastieksak haal. Trek die wortels effens los van mekaar, veral dié wat om die wortelbal gedraai het.
  • Voeg nog potgrond by en druk liggies vas. Maak goed nat om die grond te laat insak en ontslae te raak van lugborrels
  • Sorg vir goeie lugbeweging rondom jou roospotte deur hulle nie reg langs ’n muur staan te maak nie – veral nie een wat warm middag- of namiddagson kry nie. 
  • Indien jy ’n roos van ’n klein na ’n groter pot wil verplant, snoei die wortels en blare voor jy dit in vars potgrond plant.

Só bly rose in potte op hul beste:

  • Maak elke dag nat totdat die water by die dreineringsgate uitdrup. Die wortels in die houer kan nie wyer en dieper uitstrek op soek na water soos ’n roos wat in die tuin geplant is nie.
  • Bemes elke drie of vier weke met Vigorosa of werk Vigolonger in wanneer jy plant; dit sal geleidelik genoeg voeding vir die seisoen verskaf.
  • Bespuit elke twee weke met Rose Protector om plae te beheer, of gebruik ’n mengsel van Ludwig’s Insect Spray, Chronos en Picanta tydens die reënseisoen. Blommeprag Rose wat trosse blomme met ’n “tuimelende” groeiwyse dra, is die beste opsie vir potte. Dit blom ook herhaaldelik, met baie kort tye tussen blomvlae. Probeer enige van die ‘Sunsation’-rose en miniatuur-struik- of floribunda-rose soos ‘Johannesburg Garden Club’, ‘Duncan’s Rose’, ‘Deloitte & Touche’, ‘Pink Profusion’, ‘South Africa’, ‘Easy Does It’ of ‘Red Ayoba’.
‘Salmon Sunsation’

Take vir elke streek

Somerreënstreek Maak twee keer ’n week goed nat, strooi deklae, bemes in die middel van die maand met Vigorosa en knip dooie blomme af. Spuit twee keer per maand met ’n mengsel van Chronos, Ludwig’s Insect Spray en Spray Stay teen plae; spuit ook met Cyper of Plant Care teen kewers.

Kaapse kusstreek Spuit in nat weer elke twee weke om die beurt met Rose Protector en die mengsel links. Bemes in die middel van die maand met Vigorosa. As jy groot plukblomme wil hê, knyp die syknoppe af; knyp die punte van nuwe basale lote af om dit sterk te maak teen stormwind.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus Maak twee keer per week goed nat en strooi dik deklae. Bemes in middel-November met Vigorosa; spuit met Ludwig se mengsel om swamsiektes en plae af te weer. Sny dooie blomme af; dit moedig die plant aan om uit te loop en te blom.