Vraag: Wat is die beste manier om hoogstamrose te stut? Ek het ‘Granny’s Delight’ aan weerskante van my oprit en verlede jaar het die wind een van die koppe afgeruk. 

Antwoord: Die stut moet net so hoog soos die kroon wees om die kroon teen wind-skade te beskerm of te keer dat dit onder die okuleerlas afbreek. ’n T-balk of ronde struktuur bo-aan die stut is die doeltreffendste. ’n Goeie metode is om die stam aan die stut te “verbind” met ’n strook skadunet. Wanneer jy dié verband-metode op taamlik jong hoog- stamrose gebruik, is dit raadsaam om stukke polistireenskuim tussen die stut en die stam te sit sodat die stam plek het om uit te sit. 

Vraag: Hoe gemaak met die nuwe rooierige stele wat aan die onderkant van my ‘Candice’-rose uitloop? Dit lyk heeltemal anders as die ander stele. Moet ek hulle afsny? 

Antwoord: Dis basale lote (ook bekend as waterlote omdat hulle so sappig is) en is die beste teken dat jou roos gesond en gelukkig is. Dié stele sal vir die res van die seisoen gehalte-blomme dra, maar jy moet dit terugknyp sodra dit kniehoogte bereik, anders kan dit in die wind afbreek. As jy dit nie betyds snoei nie en dit het ’n blomknop begin vorm, kan jy die blom en ’n paar blare afsny. As hulle ’n kandelaber vorm, knyp of snoei die eindknop of selfs die drie middelste stele uit. Dit sal dieselfde doel dien en gouer blomme dra. 

Roostake vir elke streek

Somerreënstreek

Maak twee keer ’n week goed nat om die nuwe groei te ondersteun, bemes teen die middel van die maand met Vigorosa en strooi deklae om verdamping te verminder en die wortels koel te hou. As jy dit nie verlede maand gedoen het nie, deurdrenk roosbome met Koinor teen suiginsekte, veral blaaspootjies, of spuit weekliks met Ludwig’s Insect Spray gemeng met ’n kleefmiddel soos Picanta.

Winterreënstreek

Die koue en (hopelik) nat weer in September verhoog die kans op skade weens donsskimmel of insekte aan nuwe loof. Spuit liefs weekliks met ’n mengsel van Chronos, Ludwig’s Insect Spray en Picanta, of wissel dit af met Rose Protector. Bemes met Vigorosa om nuwe groei te ondersteun.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Maak twee tot drie keer ’n week goed nat, afhangend van die temperatuur, en strooi deklae rondom die rose om verdamping te verminder en die wortels koel te hou. As water skaars is, sal gryswater ook werk. Voorkom skade weens plae, veral plantluise en blaaspootjies, deur elke twee weke te spuit met Ludwig’s Insect Spray of aan die begin van die maand te deurdrenk met Koinor, ’n langtermyn-plaagdoder.