Verleng jou rose se blomtyd

In Oktober is dit blomtyd en is rose oortrek met bloeisels. Dit lyk pragtig, maar binne ’n maand is die vertoning verby. Daar is wel truuks wat jy kan inspan om jou hibried-teerose en Antico Moderno-rose, soos ‘Tuis’ of ‘Kovsie’, se blomtyd te verleng sodat daar altyd minstens een blom aan die struik is. Jy doen dit met ’n vingersnoei; en omdat daar dan net ’n paar stele op ’n slag blom, is daar minder spanning op die wortels as jy blomme afpluk.

Wag tot die nuwe lote sowat 25 cm lank is, net voor dit knoppe vorm, en knyp die punte van nuwe lote af wat te na aan mekaar groei, swak lyk of na die binnekant van die struik groei. Gebruik jou duim en voorvinger en knyp die voorpunt van die opgevoude blaartjies af voor hulle ontwikkel.

Anders kan jy ’n bietjie langer wag en die loot met drie of vier van die boonste blare afbreek. Dit sal twee of drie nuwe lote laat uitloop. Jy kan soveel lote afknyp as wat jy wil, maar as jy tussen drie en ses afknyp, sal dit die gewenste uitwerking hê: Die blomtyd sal met minstens twee weke uitgestel word terwyl die ander normaalweg ontwikkel.

Goed om te weet Dis nie nodig om rankrose, Colourscape-variëteite, ‘Iceberg’-rose of die meeste van die floribunda-rose te vingersnoei nie.

Onthou om die klank aan te skakel sodat jy na Ludwig se raad kan luister.

Kyk hier