Daar is twee redes waarom jy roosbome moet snoei: Hulle sal beter blom, en die struik sal jonk en sterk bly. Die ou hout van roosbome moet elke drie of vier jaar verwyder word om plek te maak vir jonger, sterker takke, en nuttelose groeisels moet verwyder word sodat die bome groter en beter blomme sal dra.

Wanneer om te snoei

Die bekende rooskweker en bobaas-snoeier Ludwig Taschner maan dat roosbome in die meeste streke nie voor middel Junie gesnoei moet word nie. In gebiede waar nagryp algemeen voorkom, moet die snoeiery uitgestel word tot vroeg in Augustus. In die Oos-Vrystaat moet jy selfs tot laat Augustus wag. In rypvrye kusgebiede en in die Laeveld is vroeg Julie die beste tyd om met die snoeiskêr in te spring.

Hoeveel moet ek snoei?

Dit maak nie saak of jy effens of deeglik snoei nie – albei benaderings is goed vir jou plante, sê Ludwig.

  • Deeglike snoeiwerk gee nuwe lewe aan jou plante, sorg dat die roosbome dieselfde hoogte is en bevorder die groei van lang stingels. “In goed voorbereide, goed belugte beddings met die toepaslike nasorg, sal roosbome vinnig nuwe wortels kry nadat hulle deeglik gesnoei is. Maar ongelukkig kan nie alle variëteite voortdurend nuwe wortels vorm nie en hulle kan dalk doodgaan of kwyn,” waarsku Ludwig.
  • Ligte snoeiwerk maak dit vir die roosboom moontlik om ’n wyd verspreide en dieper wortelstelsel te ontwikkel, wat dit sal help om te gedy ondanks te veel of te min water, wisselende grondtemperature en soms te min of te veel voeding. “Die onderste stingels vorm dikker hout wat die sap teen hitte isoleer en help om sonbrand en stamkanker te voorkom,” verduidelik Ludwig. “Dit is moontlik omdat daar ná ligte snoeiwerk meer hout behou word wat stysel en suiker bevat, wat meebring dat meer ogies uitspruit. Terwyl die boonste spruite in lang stingels ontwikkel, word die onderste lote gou groen en dít stel hulle in staat om die plantsuikers te fotosinteer en na die wortels te stuur. So word die ontwikkeling en verspreiding van die wortels bevorder.”

Hoe om rose te snoei

1. Haal eers al die blare en dooie blomknoppe af.

2. Sny dan al die dooie, siek en beskadigde stingels by die laagste of basispunt af.

3. Verwyder nuttelose en swak groeisels wat waarskynlik nie knoppies of trosse blomme sal kan ondersteun nie.

4. Sny by alle roosbome en -struike die stingels af wat oor die middel van die plant groei. Mik vir ’n vaasvormige struik met vier of vyf sterk stingels rondom ’n oopmiddelpunt. Geen stingels moet die middelpunt kruis nie. 5 Besluit watter vier of vyf stingels jy wil behou en snoei hulle tot kniehoogte (50–75 cm). Volgens Ludwig bly dié hoogte ’n persoonlike keuse: “Ek het jare lank ons rose tot kniehoogte gesnoei en uitstekende resultate behaal. As ’n mens tot ’n hoogte van 80 cm en selfs 1 m snoei, sal dit nie ’n struik doodmaak nie en dit sal ook nie ’n groot uitwerking hê op die gehalte van die blomme wat jy in die lente verwag nie.”

Wenk

In tradisionele snoeimetodes word die snit gemaak net bo ’n rusknop wat na buite wys. Die teorie is dat dit verseker dat die nuwe stingels buitentoe groei en nie inwaarts na die middel van die struik nie.