Onkruiddoder en rose

Tuiniers stuur dikwels foto’s van hul rose met misvormde blare. Hulle noem dat die roos gesond lyk, maar al die nuwe groei is rooi, of die blare is klein en varingagtig. Wanneer ek hulle verder uitvra, blyk dit hul tuin is in ’n kompleks waar die onderhoudspan die plaveisel daar naby met onkruiddoder gespuit het.

  • Rose word deur die oorblyfsels van onkruiddoder aangetas, al is dit nie eens naby hulle toegedien nie. Wanneer die water waarin die doder opgelos is op baie warm dae op die warm plaveisel verdamp, sal die dampe beweeg (al is daar nie wind nie) en op nabygeleë plante beland. Die hoeveelheid wat op die plant beland, sal bepaal hoe misvorm die blare uitkom.
  • Die skade sal nie dadelik sigbaar wees nie. Dit brand of beskadig nie die blare nie; dis net nuwe groei wat misvorm sal wees. Hoewel struikrose soms weer by die dele onder grondvlak sal uitloop, herstel veral hoogstamrose nie maklik van kontak met onkruiddoder nie.
  • Die goeie nuus? Die grond behoort nie besmet te wees nie. Daarom raai ek tuiniers aan om die aangetaste struike uit te haal en met nuwes te vervang.
  • Om verdere skade te vermy moet jy jou kompleks se bestuur van die probleem in kennis stel sodat werkers opdrag kan kry om nie op winderige dae te spuit nie en om liefs vroeg soggens te spuit voor die plaveisel te warm raak.
  • Wenk Waar daar nie baie plaveisel is nie, kan jy kookwater op onkruid gooi – dit werk net so doeltreffend en is beter vir die omgewing.
‘Tempi Moderni’

V: Ek het die hoogstamroos ‘Tempi Moderni’ in 2015 gekoop en nou dra dit vir die eerste keer ’n tros wit blomme tussen al die ander oranje rose. Is dit normaal?

A: Die tros wit blomme kom van die wortelstok waarop die ‘Tempi Moderni’ geënt is. Dis hoe die rose geslagte gelede gelyk het, maar dis nie wat ons vandag wil hê nie. Jy moet die steel uittrek, afbreek of afsny, anders groei dit te sterk en neem die hele struik oor.

V: My roos se blare verkleur geel in die middel met groen om die rand. Is dit ’n siekte wat dit veroorsaak?

A: Dis nie ’n siekte nie, maar gebeur wanneer die blare nie genoeg sonlig kry nie – dis gewoonlik die blare wat in die middel van ’n struik of in die skadu van ander stele groei. Dit kan ook gebeur wanneer ’n nuwe loot uit dieselfde ogie spruit en die ou blaar afgestoot word.

Nuwe roos! ’n Roos van stergehalte

Die ‘Elize Cawood’-roos is so genoem ter ere van die bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise Elize Cawood se werk op die verhoog, op televisie en in rolprente. Dié ster van kykNet se dramareeks Pandjieswinkelstories, talle gewilde sepies, asook ’n eenvrouverhoogstuk oor Olive Schreiner, is self ’n kranige tuinier met ’n voorliefde vir wit rose – “want snags lyk dit of die rose gloei”. Die roos wat sy op Ludwig’s Rose Farm se proefplaas uitgekies het, is ’n elegante hibried-teeroos wat pêrelwit blomme met ’n titsel pienk in die middel dra op lang stele. Dis ’n ywerige groeier en kan skouerhoogte bereik.

Take vir elke streek

Somerreënstreek

Gee rose ’n ligte snoei in die middel van die somer. Snoei rose wat baie hoog groei met sowat ’n derde terug en dun digte, bosagtige groei uit. Doen dit geleidelik oor twee tot drie weke. Moet glad nie jou rose snoei in droë toestande waar waterbeperkings van krag is nie. Maak twee tot drie keer ’n week goed nat, bemes met Vigorosa en spuit met Ludwig’s Insect Spray gemeng met Chronos of Rose Protector teen swamsiektes en plae.

Kaapse kusstreek

Gebruik gryswater waar waterbeperkings van krag is. Strooi deklae, maar moenie dooie knoppe uitbreek of afsny nie. As daar water is, snoei rose wat onnet lyk, maak twee keer ’n week nat en spuit met Ludwig’s Insect Spray teen plae.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Soos met die ander twee streke hang roossorg af van hoeveel reën geval het. Rose kan oorleef met gryswater. Moenie dooie knoppe uitbreek of snoei nie, want dit moedig die plant aan om uit te loop. Sou daar genoeg reën val, kan jy groei aanmoedig met Vigorosa, en spuit om die beurt met Rose Protector en Chronos (gemeng met Ludwig’s Insect Spray) teen swamsiektes en plae