Vraag: Ek weet dis beter om saans nat te maak, maar ek is bang die blare van my ‘Black Tea’-roos doen ’n swamsiekte op. Wat stel jy voor?

Antwoord: In Februarie is dit saans nog so warm dat die blare gou uitdroog; jy hoef jou eintlik nie te bekommer oor swamsiektes nie. Wanneer dit bedags en saans warm is, is dit beter dat die roos saans water kry, want dan het die water tyd om tot by die wortels weg te sak. As jy bekommerd is, spuit die rose met Chronos, ’n swamdoder wat dadelik deur die blare opgeneem word.

Vraag: Ná die eerste blomvlaag laat in Oktober het die blare op my ‘Brigadoon’-roos geel verkleur en dit lyk steeds ongesond. Wat kan ek doen?

Antwoord: As jou rose se blare in die groeiseisoen geel verkleur, sal dit dadelik help as jy jou grond ’n bietjie loswoel (nie omspit nie). Gebruik ’n tuinvurk, druk dit ’n tand se lengte in die grond en wikkel dit effens sonder om die grond om te werk. Doen dit herhaaldelik deur die hele bedding en rondom elke struik. Strooi kompos oor dié area en maak dan goed nat sodat dit in die gate insink. Strooi laastens Vigorosa-bemesting oor die area en maak weer nat.

Roostake vir elke streek in Februarie

Somerreënstreek

Strooi deklae, maar maak seker daar is ruimte rondom elke stam sodat die water kan insak. Wag tot dit koeler is voor jy met Vigorosa bemes. Snoei so min moontlik; knip net dooie blomme af. As dit nie reën nie, kyk uit vir rooispinmyt onder blare en spuit twee weke na mekaar met Milbeknock. Wanneer dit wel reën, wag dat die son uitkom voor jy Chronos of Rose Protector teen swartvlek spuit, anders spoel dit af.

Kaapse kusstreek

Voorkom rooispinmyt deur elke twee weke met Ludwig’s Insect Spray te spuit. Gebruik Milbeknock as daar ’n kwaai infestasie is wat dié spuitmiddel nie kan beheer nie; maak seker jy deurdrenk die onderkant van die blare. Volg dit ’n week later op met ’n tweede toediening om enige myte wat weer uitgebroei het, dood te maak. Strooi deklae en maak twee keer per week goed nat.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Hou plae en swamsiektes weens hoë humiditeit in toom deur te spuit met Ludwig’s Insect Spray gemeng met Chronos of Rose Protector. Maak twee keer per week goed nat en bemes aan die einde van die maand met Vigorosa.