Vraag: Ek kweek ‘Pearl of Bedfordview’-hoogstamrose voor ’n heining en hulle vaar glad nie goed nie. Sal bemesting help?

Antwoord: Die heining laat waarskynlik nie genoeg lig deur nie en wedywer met jou rose vir voeding. In die lente groei die twee saam, maar in die somerhitte het die heining sterker wortels. Grawe ’n gat langs die roos om te kyk; as daar wortelmededinging is, grawe die rose uit, plant dit in groot potte en versink die potte in die grond. Lig dit elke drie maande sodat die heining se wortels nie by die potte ingroei nie. Snoei ook die heining om meer lig in te laat.

Vraag: My floribunda-roos, ‘Not Simply Pink’, het geel blare in die middel van die struik. Is dit ’n siekte?

Antwoord: Dis nie ’n siekte of insek nie, maar die somerhitte wat dikwels veroorsaak dat blare aan kort sylote nie water kry nie. Water beweeg verby die ouer blare direk na die bopunt van die struik. Met vinnige verdamping word die blare laer af op die struik dan afgeskeep. Jy sal sien die geel blare sit aan ’n syloot – die beste is maar om die loot af te sny. Die vergeling kom ook voor wanneer daar digte ondergroei is; water kan dan nie al die blare bereik nie.

Roostake vir elke streek

Somerreënstreek

Maak nou net een of twee keer per week nat. Dis nie nodig om te bemes nie; die rose gaan nou hul dormante tydperk binne. Hou blare gesond deur elke twee weke met Chronos of Rose Protector te spuit teen swartvlek. As plantluise ’n probleem is, meng Ludwig’s Insect Spray met die swamdoder. Plant winterjaarplante as ’n beddingrand, of Yslandse papawers tussen jou rose vir kleur wanneer die rose gesnoei is.

Winterreënstreek

Hoop vir ’n bietjie reën en beskerm deurdrenkte blare teen swartvlek, poeiermeeldou, roes en donsskimmel deur elke twee weke met Chronos te spuit. Wissel die Chronos af met Rose Protector. As daar nie genoeg reën val nie, maak een keer per week nat met gryswater. Plant inheemse jaarplante soos Nemesia, Diascia of Namakwalandse madeliefies as droogtebestande beddingrande.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus

Hou jou rose in ’n puik kondisie deur twee keer per week goed nat te maak, te snoei en teen plae en swartvlek te spuit. Meng Ludwig’s Insect Spray met Chronos en spuit al om die ander week met dié mengsel. Vir hewige infestasies van blaaspootjies en plantluise, deurdrenk die grond rondom die rose met Koinor. Bemes met Vigorosa