Om ’n roos te verplant

Anne Smith van Sedgefield skryf My groot ‘Fairest Cape’ Panarosa-roos vaar nie goed waar dit geplant is nie; daar groei gras tot in die bedding en dit steel sy water. Kan ek dit skuif?

Ludwig antwoord Jy kan, en Mei en Junie is ’n goeie tyd om so ’n groot roos te skuif aangesien dit dan dormant raak en die wortels onder minder spanning is. Berei eers die nuwe plantplek voor, liefs ’n dag voor die tyd, en maak goed nat sodat die grond klam kan wees. Snoei die roos met minstens ’n derde terug; maak seker daar’s genoeg blare oor wat kos en water uit die wortels kan opneem.

Hou in gedagte dat so ’n groot struikroos ’n uitgebreide wortelstelsel het. Grawe ’n sirkel so groot soos sy wortelsone om die roos; steek die graaf diep reg rondom in ten einde die wortels af te sny. Laat een of twee mense jou help met die wortels se afsny en om die plant uit die grond te lig. Dis raadsaam om liewer die wortels af te sny as om dit uit die grond te trek. As die roos uit die grond is, sny stukkende wortels af en verplant dadelik op sy nuwe plek, net so diep in die grond soos voorheen. Trap die grond vas en maak goed nat. Die wortels kan gedurende die winter vestig en nuwe groei sal in die lente opskiet.

KONTAK ludwigsroses.co.za