Is jy bekommerd oor waterbeperkings en hoe dit jou tuin sal raak? Oorweeg ’n boorgat; ons het al die navorsing gedoen ...

fontein

1. Is boorgatwater veilig vir menslike verbruik? Die meeste boorgatwater is veilig vir mens en dier, maar ’n gehaltetoets is noodsaaklik voor jy dit drink of vir besproeiing gebruik. Nader ’n chemiese laboratorium soos die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad, Aquitico of Waterlab. Die toets kos sowat R2 800 en neem 10–14 dae; gebruik ’n gesteriliseerde houer of een wat die laboratorium verskaf.

Onthou Die meeste diep grondwater het die aarde honderde of selfs duisende jare gelede binnegedring, voor daar enige mensgemaakte chemikalieë was. Daarom is boorgatwater nie so blootgestel aan besoedeling, besmetting en siektes soos die bronne waar munisipaliteite gewoonlik hul water kry nie.

2. Hoeveel kos dit? Tipiese koste vir ’n deursnee-huis wissel tussen R35 000 en R100 000, afhangend van hoe diep daar geboor moet word, die soort voeringpyp (staal of PVC), bykomende tenks en filtrasie. Die goeie nuus is dat die meeste huishoudings die koste binne die eerste drie jaar sal verhaal.

Boorkoste word per meter bereken en die watertafel is gewoonlik tussen 25 en 70 m onder die grond (in party gevalle sal jy dieper moet boor). Daar is ook nie ’n waarborg dat jy water sal kry nie, en ongeag die uitkoms sal jy steeds die boorkoste moet dek. Gesels met bure wat boorgate het en vind uit hoe diep hul gate is – dis gewoonlik ’n goeie aanduiding.

3. Kan ek op enige plek in my tuin boor?

Ja, boorgate hoef nie op ’n bepaalde plek op jou erf te wees nie. Maak net vooraf seker dat daar toegang vir die boormasjien na die bepaalde punt is, dat daar genoeg plek is vir die masjien en daar nie elektriese kabels of rioolpype onder die grond deurloop nie.

4. Kan ek die water in my swembad gebruik? Nadat ’n toets bepaal het jou water is veilig, is daar geen rede hoekom jy dit nie in jou swembad kan gebruik nie. Die water vlek soms mure en swembaddens, maar dis as gevolg van opgeloste yster in die grondwater. Die meeste grondwater is effens suur, maar dit kan maklik reggestel word: Koop eenvoudig die regte produkte by jou swembadwinkel; hulle sal hul eie toetse doen en dan raad gee. Party mense gebruik om die beurt munisipale  en boorgatwater wanneer hulle hul swembad aanvul.

5.  Moet ek my boorgat registreer en bordjies opsit? Tegnies gesproke hoef jy nie ’n boorgat te registreer nie, maar wel die bepaalde watergebruik. Aangesien boorgate op woonerwe volgens die Departement van Water en Sanitasie onder skedule-1-gebruike (huishoudelike gebruik) val, is registrasie vir dié soort grondwater nie nodig nie. Maar sommige munisipaliteite het verordeninge wat die registrasie van boorgate vereis – hulle sal vir jou gratis bordjies vir jou grensmure stuur. Al is daar nie vereistes dat jy moet aandui jy het ’n boorgat nie, is dit ’n goeie idee sodat jou bure tydens waterbeperkings nie dink jy besproei onwettig nie!

6. Het ek ’n permit of my bure se toestemming nodig?

Jy het nie ’n permit nodig nie, maar party munisipaliteite vereis magtiging vooraf; maak seker by jou plaaslike munisipaliteit omdat verskillende verordeninge van toepassing is en jy jou nie ’n boete op die hals wil haal nie. Jy het ook nie jou bure se toestemming nodig nie, maar omdat die boordery taamlik kan raas, is dit ’n goeie idee om hulle vooraf te waarsku.

7. Kan ek my boorgatwater aan my toilette koppel?

Dis moeilik om net een deel van jou loodgieterswerk met ’n ander bron te verbind; doen dit dan liewer met jou hele huis. Pomp die water direk uit die boorgat of uit ’n opgaartenk na ’n drukvat wat aan die huis se hoofleiding gekoppel is – dis om die regte druk te genereer. Maar onthou: Party munisipale verordeninge verbied dat ’n boorgat met huishoudelike waterstelsels verbind word.

8. Wat behels die boorproses? Dit kan enigiets van ’n paar uur tot ’n paar dae neem, afhangend van die grootte van die masjinerie wat die kontrakteur gebruik. Daar is verskeie boormetodes; die algemeenste is roterende perkussie: ’n kompressor, boorpunt en -pyp word gebruik om rots met ’n kragtige draai-aksie te kloof en te breek terwyl lug, water of boormodder in die pyp afgepomp word om die puin uit te spoel. Daarna word die staal- of PVC-voeringpyp ingesit, asook ’n dompelpomp onder in die gat met ’n kontroleboks bo die grond. Jou kontrakteur sal toets of dit nodig is om die water eers in ’n opgaartenk te pomp en of jy direk van die boorgat af kan besproei. ’n Tenk is dikwels ’n goeie idee omdat veral groot tuine ’n boorgat onder druk kan plaas.

boorgat-proses

9. Kan my boorgat uitgeput raak?

Indien jy vinniger water onttrek as wat dit weer kan aanvul, kan die watertafel tot onder jou boorgat se onderpunt daal. Dit gebeur gewoonlik oor baie jare, indien ooit. Baie boorgate wat 40–50 jaar gelede geboor is, lewer vandag nog water en word elke dag gebruik. Boorgate word gewoonlik net gesluit omdat die dun wand van die staal-voeringpyp geroes het, nie weens ’n gebrek aan water nie. Die PVC-voering wat deesdae gebruik word, hou lewenslank en boorgate behoort vir etlike dekades water te lewer.

10. Is daar ’n vereniging met geakkrediteerde lede?

Nader die Boorgatwatervereniging van Suider-Afrika (nommer onder) vir ’n lys kontrakteurs en nuttige inligting soos ’n eksemplaar van A Layman’s Guide to Borehole Ownership. Raadpleeg ook die SABS-standaarde vir boorgate (SANS 10299).

11.  Is waterbeperkings van toepassing op boorgate?

Dit lyk of al hoe meer munisipaliteite boorgate begin reguleer. Hoor by jou plaaslike owerheid.

Het jy geweet? 

• Alle boorgatwater, of grondwater soos dit ook bekend staan, is water wat die rotsformasies onder die grond deur krake en skeure binnegedring het en in “holtes” onder die oppervlak versamel het. Verskeie faktore bepaal hoe diep die water lê; die vlak waaronder die grond met water deurdrenk is, word die “watertafel” genoem. Om water na die grondoppervlak te bring, moet jy ’n breuk of netwerk breuke in die rots raakboor. Indien nie, sal jy miskien geen water kry nie.

• Tussen 30 en 50% van huishoudelike water word in die tuin gebruik – en in groter tuine kan dit soveel soos 80% wees.

Boorgat of syfergat? Syfergate (“wellpoints”) is vlak waterontrekkingskagte met ’n diepte van sowat 10–15 m; dit kom gewoonlik voor in sanderige gebiede naby die see (die water is nie sout nie) waar die watertafel baie hoog is. Die gat word met ’n klein kompressor gemaak, nie ’n boor nie. ’n Pomp aan die bopunt van die PVC-voeringpyp in die gat suig letterlik die water uit die deurdrenkte sand.

BRONNE EN KONTAKTE Domestic Boreholes 011 596 1000;  Boorgatwatervereniging van Suider-Afrika 011 447 0853; Departement Water en SanitasieStad Kaapstad