Die somer is om die draai, en watter beter tyd om jou gereedskap neer te sit en jou tuin net te geniet? Dit is presies wat Tuindag op Sondag 20 Oktober wil aanmoedig. Nooi vriende en familie oor vir ’n kuier – ruil plante uit, hou ’n piekniek met koek en tee, of bedien middagete op die grasperk of stoep.

Blommekrone is steeds sinoniem met Tuindag-makieties – dra joune met trots! Laai oulike kindermaskers af op Garden Day se webblad. Of neem dit een tree verder en dek ’n feestelike tafel. Stacy van Zyl, ’n Tuis-leser van Brackenfell, wys wat gedoen kan word. Sien haar wenke onder, of kry meer inspirasie op haar blog, sawdustandhighheels.com.

Tuindag,garden day

Stacy se sakpasplanne ...

PLANTPOTTE

As jy plastiekpotte het, draai dit toe in bruinpapier en bind vas met ’n grys lint, of in wit papier met growwe tou. “Dit versterk vir my die rustieke gevoel sonder om jou sak te ruk.”

KRUIERUIKERS

Een ruikertjie is genoeg vir elke gedekte plek. “Kies geurige kruie uit jou tuin en bind dit vas met tou. Drie laventeltakkies, een louriertakkie en een roosmaryntakkie lyk en ruik lieflik saam.”

TAFELDEKOR

Begin met ’n skoon wit tafeldoek – selfs ’n laken sal werk – en gooi ’n tafelloper oor die middel. “Oorweeg ’n goiing-loper met kantdetail soos hierbo. Dis neutraal genoeg dat dit by die meeste kleurskemas sal pas.”

FOKUSPUNT

“Maak ’n tafelrangskikking van drie laventelbossies en ses klein tiemiebossies. Plaas die laventel ewe ver van mekaar en maak dan die tiemie tussenin staan.” Stacy stel voor jy sit dit op koekstaanders vir hoogte. Vier glas-kersblakers met lang wit kerse rond die prentjie mooi af.

Deel ’n foto van jou vieringe op sosiale media en merk @GardenDaySA en @tuishomemag en jy kan 'n Babylonstoren-geskenkpak ter waarde van R1000 wen!
VIND MEER UIT

Kort jy hulp met die beplanning van jou Tuindag-makietie? Besoek gardenday.co.za, waar jy Tuindag uitnodigings vir WhatsApp, foto’s vir sosiale media en resepte kan aflaai. Boonop kan jy inskryf vir Tuindagblommekroonmaak-sessies in Kaapstad en Johannesburg – daar’s ook ’n video wat jou wys hoe jy jou eie blommekroon kan maak! Volg Garden Day op Instagram vir nog meer inspirasie.

LAAI DIE APP AF

Bly in verbinding met mede-tuiniers deur aan te sluit by die tuingemeenskap op Candide, ’n tuinmaak-app.. Dis gratis en bevat ’n uitgebreide kennisbasis oor plante, plant-identifisering en kweekwenke; dié app wil tuiniers die wêreld oor se beste vriend wees. Tuindag is met trots begin deur Candide.

KONTAK Stacy van Zyl sawdustandhighheels.com