Die iris-familie het sy naam by die Sweedse plantkundige Carl Linnaeus gekry en word sedert antieke tye gekweek, nie net vir hul skoonheid nie, maar ook vir hul godsdienstige simboliek en nut in die parfuumbedryf, waar die wortel as ’n geur-hegter gebruik word in pot-pourri.  

In die Griekse mitologie is Iris die godin van die reënboog en boodskapper van die gode. Die iris was ’n simbool van die lewe in antieke Egipte en Indië, en in die Christendom was dit heilig vir die Maagd Maria. Dit word verbind met koninklikes en verskyn op vlae en wapenskilde; die fleur-de-lis was ’n embleem van Franse konings.

Irisse in kuns

Irisse het koning Minos se paleismure versier in Kreta (2100 v.C.), dis in die 18de eeu op Japannese skerms gebruik, en in die 19de eeu in Franse tapisserieë. Irisse is ook te sien in skilderye uit die Middeleeue en Renaissance (Leonardo da Vinci s’n is veral bekend) en was gewild onder Impressionistiese skilders soos Vincent van Gogh, Renoir en Cézanne. Monet het die blomme ook langs paadjies en op oewers in sy tuin in Giverny geplant. Die 20ste-eeuse Amerikaanse kunstenaar Georgia O’Keeffe is bekend vir haar skildery Swart irisse.

Irisse in die tuin

Irisse kom voor in Europa, Asië en Noord-Amerika en groei in droë streke, teen rotsagtige hellings, in weivelde en moerasagtige grond langs rivieroewers. Party het ’n soet geur. Die blom het ses dekblare waarvan die drie in die middel regop staan en die drie aan die buitekant wegstaan of afhang. Irisse lok bye en skoenlappers.

• Dwerg-, middelslag- en hooggroeiende baardirisse (Iris germanica) verleen van laatlente tot vroegsomer hoogte in tuine. Hul blomme, soms geplooi, is so kleurryk soos die reënboog, met stippels of kolle op die blomblare wat as “landingstrook” vir bestuiwers dien. Dit blom hoofsaaklik in die lente en vroegsomer; party blom wéér in die herfs. 

• Die immergroen Japannese iris (I. ensata) word al meer as 500 jaar lank gekweek en die risome moet met vogryke grond bedek wees. Die moerasagtige grond langs ’n dammetjie se rand of ryk, klam tuingrond is die beste vir dié irisse. Die Louisiana-groep irisse vereis soortgelyke kweektoestande as Japannese irisse.

• Die Siberiese iris (I. sibirica) het grasagtige loof en blomme op dun stele; dit vra vogtigheid gedurende die groei- en blomseisoen, en droër toestande wanneer dit dormant is. 

• Hollandse irisse (I. hollandica), met hul lang, dun stele in blou, wit, geel en rooi, is ’n gunsteling onder bloemiste.

Het jy geweet?

Die iris-familie in Suid-Afrika sluit Ixia, Dietes, Gladiolus, Freesia, Sparaxis, Babiana, Crocosmia, Tritonia, Dierama en Watsonia in – almal gewilde tuinkeuses in baie dele van die wêreld.

Kweekwenke vir irisse

• Iris-spesies groei van risome, bolle of knolle en verkies verskillende grondtoestande – party vra klam grond, ander baie goeie dreinering. 

• Verdeel oorgroeide irisse dié maand; gooi houtagtige middelste dele weg en plant die nuwe buitenste groei oor. Snoei loof in ’n waaiervorm van sowat 3 cm hoog.

• Plaas baardirisse se risome op ’n hopie grond sodat dit ’n bietjie son kry.

• Moenie deklae rondom baardirisse strooi nie, want vogtigheid kan die risoom laat vrot.    

• Anders as baardirisse, hou Louisiana- en Japannese irisse van vog; plant hulle in komposryke, waterhoudende grond met die risome bedek. Moenie kalk of superfosfaat byvoeg nie.

’n Eetbare reënboog

Jou kostuin kan bo- én ondergronds ’n kleurspel wees met wortels, beet en radyse in verskillende kleure; wit en pers eiervrugte; rooi, oranje en geel soetrissies; pers en blougroen kool; pers blomkool, en geel murgpampoentjies.

Plant kool in groepies, lemmetjiegroen en robynrooi blaarslaai in driehoeke en vierkante, en ‘Bright Lights’-spinasiebeet met stele in rooi, oranje, appelkoos of geel. Rond die rande af met mauve grasuie en silwergrys salie.

Bring selfs nog meer kleur in deur die stutte vir jou rankgroente te verf. Kweek oranje afrikaners in kobaltblou potte, kies geel potte vir kappertjies, laventel-pers potte vir mauve tiemie, en aarbeie in rooi planthouers.