Kikoejoe bly Suid-Afrika se gewildste grasperk, sê Marlaen Straathof, besturende direkteur by Kirchhoffs/Ball Straathof, een van Suid-Afrika se grootste spesialis-saadverskaffers, al versprei dit maklik na blombeddings en opritte.

Buite die reënseisoen, veral op plekke waar ryp in die winter voorkom, het jy heelwat water nodig om te keer dat jou kikoejoegrasperk bruin word. Bermuda-gras, ook bekend as kweek, vaar ietwat beter in droë, warm toestande en is nie heeltemal so dors soos kikoejoe nie. Dié grassoort, wat as inheems beskou word, het ’n fyner tekstuur as kikoejoe, maar dit beteken nie dat hy skrik vir ’n rugbyspan of ander swaar verkeer nie.

As kikoejoe te “dors” is na jou smaak, oorweeg Cynodon ‘Princess’ vir sonkolle. Dit het die helfte soveel water nodig as kikoejoe, sê Paul Vonk, handelsbestuurder by die Suid-Afrikaanse tak van Sakata Seed Corporation, die Japanse maatskappy wat MyFord Seed besit.

Volgens Jaco Visser, plaasbestuurder en tuinboukundige op die wynlandgoed La Motte buite Franschhoek, is buffelsgras (Stenotaphrum secundatum) ook meer droogtebestand as kikoejoe.

Moet jy jou grasperk prysgee vir ’n ekovriendelike tuin?

Nie noodwendig nie, sê Marlaen. Gras keer dat water afloop, veral ná swaar reënbuie. In die noordelike dele van die land, waar somerstorms algemeen is, hou dit die grond onder die grasperk koel en bied só ’n veilige hawe vir voordelige insekte.

Die groot probleem, glo Marlaen, is dat mense verwag hul grasperk moet heeljaar groen wees. Ontspan eerder en onthou dat gras oral waar dit in die natuur voorkom, nie dwarsdeur die jar soos ’n netjies versorgde setperk lyk nie.