Camellia sasanqua

Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Tyd vir ’n teeparty!

Wie sou dink dat 19de-eeuse partytjies aan boord seilbote te midde van die roesemoes van die dokke in Sjanghai en Londen enigiets met plante te doen kon hê? Maar dit was op dié skepe en in dié hawens dat handelaars ’n fortuin kon maak óf verloor – alles gegrond op tee, destyds gemaak van die blare van die kamille-struik.

Dit was die era van teehandel, toe Chinese seilskepe moes meeding in ’n dolle wedvaart verby die punt van Afrika om die eerste vrag van die seisoen te lewer. Wanneer etlike skepe tegelyk by hul bestemming aangekom het, het die teeprys drasties gedaal; dan was ’n drankie wat net vir die rykes beskore was, skielik vir Jan Alleman toeganklik. Londen se koffiehuise het in teekamers verander waar bekende digters en skrywers oor ’n koppie tee bymekaargekom het. Die digter en filosoof Ralph Waldo Emerson het dit só opgesom: “Daar is heelwat poësie en fyn sentiment in ’n kis tee.” Die kamelia wat destyds die grootste ekonomiese waarde ingehou het, was die spesie met wit enkelblomme, Camellia sinensis; tee is van die blink blare en blaarknoppe gebrou.

Hoewel ’n mens ook tee kan brou van ander Camellia-spesies, soos dié wat hier genoem word (sien oorkant), sal die drankie nie soos tradisionele tee proe, lyk of ruik nie. Wat is nou meer geskik vir Moedersdag as ’n koppie tee in die tuin nadat julle saam ’n paar kamelias ingespit het? 

HUISPLANT-WENKE

Hou jou huisplante só in topkondisie:

Toets jou potplante se grond voor jy natmaak, want hulle kort minder water in koue weer.

Skuif die potte weg van vensters op plekke waar dit snags ysig raak, en hou dit weg van verwarmers, wat die lug uitdroog.

Camellia reticulata ‘Laurian Brown’

In die tuin

Die kamelia is ’n dekoratiewe immergroen struik met pragtige blomme – ’n waardevolle toevoeging tot enige tuin.

Die meeste kamelias in hedendaagse tuine is variëteite en hibriede van drie spesies: die herfsblommende Camellia sasanqua, C. japonica, wat in die winter blom, en die lenteblommende C. reticulata.

• C. sasanqua het ’n netjiese, aantreklike groeiwyse en wisselende vorms. Dit spog met blink, donkergroen blare, die perfekte agtergrond vir die fyn blomme met hul geriffelde wit, pienk of rooi blomblare rondom goudgeel meeldrade. In uiters warm klimate het die struik beskerming teen die warm middagson nodig.

• ’n Hoekie van die tuin wat ligte skadu kry en teen koue wind beskut is, is geskik vir die winterblommende C. japonica. Dis in die algemeen ’n regop, diggroeiende struik met blinkgroen blare en enkel- of dubbele rosetvormige blomme.

• C. reticulata is die laaste kamelia wat in die seisoen blom. Net soos die sasanqua kan dit meer son hanteer as C. japonica. Reticulatas groei hoog en het nie die mooiste blare nie – dis leeragtig en dof – maar die pragtige pieringgroot blomme vergoed daarvoor. Camellia-spesies soos C. rosiflora, die geurige C. lutchuensis met fyn blomme en loof, en C. nitidissima (sin. C. chrysantha) met geel blomme is ook apploustrekkers in die tuin.

Camellia japonica ‘Happy Higo’

Camellia japonica ‘Tiffany’

Rhododendron

Pasmaats vir kamelias

Kamelias wissel in grootte en vorm: Dié wat hoog groei maak goeie grensplante uit, terwyl variëteite met ’n geronde groeiwyse perfek is as skermplante; ander kan as struike in ’n landskap dien of as smal kolomme wat ’n ingang omraam. Die loof kan gesnoei en beheer word, en kompakte variëteite werk goed in potte.

As jy genoeg plek het, plant kamelias weerskante van ’n paadjie vir die genot van vriende en familie. Die KZN Nasionale Botaniese Tuin in Pietermaritzburg het ’n kamelia-roete met Camellia japonica wat reeds in April 1891 geplant is, en die Vergelegen-landgoed in Somerset-Wes is in 2010 aangewys as die International Camellia Garden of Excellence.

Die beste pasmaats vir kamelias vra ook gedeeltelike skadu en suur, klam grond wat goed dreineer; oorweeg rododendrons, asaleas, Magnolia, Gardenia, Deutzia en Pieris. Japannese esdorings, met hul aantreklike vorms en teksture, en die geboë groeiwyse van varings sal ’n kamelia pragtig komplementeer. By kamelias se voete kan jy in die lente clivias plant, in die somer Astilbes met hul veeragtige blommetjies en Hostas met hul gladde blare; kies Plectranthus vir die herfs en Hellebores vir winterblomme.